GEORGE NUUS - Die St Blaze Lionsklub van Mosselbaai en die Haak en Steek-hekelgroep van Secunda het 'n welkome skenking aan die George-hospitaal gemaak.
Carika Jansen van Vuuren en suster Sharon Venter van die George-hospitaal het die skenking in ontvangs geneem tydens 'n oorhandiging by die Irma Bruschi-huis van die Kankervereniging in George op Donderdag 14 September.
Pasiënte wat behandeling in die hospitaal ontvang en wat van ander dorpe in die streek kom, kan hier tuisgaan.
Die Haak en Steek-hekelgroep het 200 skouerhandsakkies vir mastektomiepasiënte gemaak en die Lionsklub het 30 toiletware-geskenksakkies, ses komberse, koekiepakkies, gebreide sneespapiersakkies en vier gebreide truie vir volwassenes geskenk.
Die hekelgroep het 18 lede wat al sedert Junie 2018 saam hekel. Hulle gebruik hul eie fondse en maak op so 'n onbaatsugtige manier 'n verskil in ander se lewens.
Daar word op 'n gereelde basis sakkies aan hospitale geskenk vir gebruik deur kankerpasiënte wat 'n mastektomie gehad het.
Die hekelgroep begin ook uitreik na kinderhuise, ouetehuise en minderbevoorregtes.
By die oorhandiging van die skenkings was, van links: Sunita Gonse (Lionsklub), Lynnette Reyneke (Lions), Erika van Vuuren (George-hospitaal), Alvina Sabbat (George-hospitaal), Josephine Murray (Sunflowers), Marlene Meiring (Lions), Pieter Meiring (president van die Lionsklub), René Scott (Kansa), Devetia Swartbooi (Kansa), Ingrid Watkins (Reach for Recovery) en Stephane Jacobs (Reach for Recovery).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’