GEORGE NUUS - Leerders van PW Botha-kollege en York High blyk deesdae die teikens van rowers te wees met verskeie voorvalle wat die afgelope paar weke in die omgewing van dié skole plaasgevind het.
In die mees onlangse voorval, verlede Woensdag 21 Augustus omstreeks 14:30 is 'n 18-jarige PW Botha-leerder van haar selfoon beroof terwyl sy op pad was vanaf die skool na die naaste busstop.
Volgens 'n kommunikasiebeampte van die George-polisie, sers. Michael Opperman, het die slagoffer haar selfoon uit haar sak gehaal om te kyk hoe laat dit is toe twee seuns op fietse haar nader. "Een van die verdagtes het haar selfoon gegryp toe hy verby haar gery het en gevlug," sê hy.
Die twee verdagtes, 15 en 17 jaar oud, is later die middag deur die polisie in Borcherds vasgetrek en in hegtenis geneem.
Albei sou Vrydag 23 Augustus in die hof verskyn, maar die saak teen die 15-jarige is nie op die rol geplaas nie. Hy word tans geassesseer en sal in alle waarskynlikheid saam met die 17-jarige vandag, Donderdag 29 Augustus, in die hof verskyn.
In 'n afsonderlike voorval ook naby PW Botha-kollege op Donderdag 22 Augustus omstreeks 14:00 is 'n beweerde rower by die Go George-bushalte in Yorkstraat deur inwoners van Rosedale vasgetrek toe hy 'n leerder van die skool probeer beroof het.
"Ons was op pad na 'n buurtwag-geleentheid by die George-burgersentrum toe ons die twee seuns sien baklei. Dit het verdag gelyk en ons het gestop. Die een wou die ander se foon vat, maar ons het ingetree, hom gevang en gewag tot die polisie hom kom haal het," vertel Rosedale-inwoner, John Pato.
Verdere inligting rondom dié voorval was teen druktyd nog nie bekend nie. Dit wil voorkom of dit nie deur die slagoffer by die polisie aangemeld is nie.
Wees waaksaam
Die polisie doen 'n beroep op leerders om nie met hul selfone of ander waardevolle items in hul hande na skool te loop nie.
"Leerders moet waardevolle items wegpak en in groepe beweeg wanneer hulle na skool tot by hul bestemming beweeg," sê Opperman.
IN SHORT
Learners from PW Botha College and York High school seem to be the target of robbers these days as several incidents in the vicinity of these schools involving their learners have been reported. In the latest incident last Wednesday, 21 August, at approximately 14:30, a PW Botha learner (18) was robbed of her cellphone while on her way from school to the bus stop. The following day another learner was allegedly nearly robbed by a man at a bus stop near PW Botha in York Street.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'