Die vragmotor het ook 'n wit Isuzu-bakkie met 'n bejaarde man en vrou op die hoek van Ringweg en Randstraat getref en 'n vragmotor van Mustbuild verder op in Ringweg van agter gestamp in 'n poging om die polisie te ontduik.
Die verdagte (26) van Parkdene, 'n hulp-motorwerktuigkundige by 'n plaaslike onderneming in die nywerheidsgebied, het na bewering die vragmotor waaraan hy gewerk het vir 'n toetsrit geneem, maar hy het klaarblyklik ander planne gehad. Kort ná 13:00 het hy twee mans in Dellvillepark, Pacaltsdorp van hul Blackberry-selfone beroof. Hy het hulle glo ook met 'n vuurwapen gedreig.
Lede van die Outeniqua K9-honde-eenheid het die verdagte by die verkeersligte op die hoek van PW Botha Boulevard en Yorkstraat opgemerk waar hulle hom probeer stop het. Hy het weggejaag en hulle byna.
Hierna het 'n wilde jaagtog deur die nywerheidsgebied gevolg en is verskeie skote deur die polisie gevuur nadat die vragmotor die bakkie by die verkeerslig gestamp het.
'n Werknemer van die George Herald Lo-An-Nel Breytenbach, was op pad uit die gebou toe sy die eerste skote hoor klap.
"Ek het my yskoud geskrik. Ek was op die voetoorgang voor die gebou toe ek vyf of ses harde klapgeluide hoor en besef dit is skote. Ek het die vragmotor gesien en na my motor gehardloop. Die vragmotor het verby gejaag met twee polisievoertuie kort op sy hakke," het 'n geskokte Breytenbach vertel. Dit was ook hier waar die tweede voertuig, die vragmotor van Mustbuild, gestamp is.
Die jaagtog het in die duik in PW Botha Boulevard geëindig nadat die polisie die vragmotor se bande stukkend geskiet het.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die verdagte by die passasierskant uitgespring en die oop veld ingehardloop.
"Lede van die honde-eenheid het hom agternagesit en hul honde het hom platgetrek."
Die verdagte is na die George-hospitaal geneem waar hy vir bytmerke aan sy arm behandel word. Hy was gister nog in die hospitaal.
Pojie sê sodra hy ontslaan word sal hy na die Pacaltsdorp-aanhoudingselle geneem word tot sy eerste hofverskyning waarskynlik later vandeesweek.
Hy staar klagtes van gewapende roof, roekeloos en nalatige bestuur en moontlik poging tot moord in die gesig.
Die polisie het ook beslag gelê op 'n vuur-wapen wat die verdagte glo tydens die jaagtog by sy venster uitgegooi het. Dit sal binnekort vir ballistiese toetse gestuur word. Pojie kon nie sê aan wie die vuurwapen behoort nie.
Volgens Marlene Lotz, dogter van die insittendes van die bakkie, Johannes Hattingh (65) en sy vrou, Sophia (62) van Blanco, is haar ma se ribbes gekraak en het sy verskeie kneusplekke en snywonde opgedoen.
"Die koeëls het verby my ma-hulle gefluit. Dit kon hulle getref het. Ek wil ook graag weet wie verantwoordelikheid gaan neem vir die skade aan my ouers se bakkie. Hulle het dit vir werk gebruik en kan nou glad nie 'n inkomste verdien nie, want die bakkie kan nie ry nie," het sy gesê. Daar was na verneem word ook ander voertuie wat moes uitswaai om 'n botsing te voorkom.

Die beskadigde bakkie van mnr. Johnannes Hattingh (65) van George.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'