GEORGE NUUS - Vir Patricia Stander was dit 'n rustige Saterdagoggend in Rosedale. Sy was besig om koffie te maak en haar afnaweek te geniet toe haar bure om hulp roep: "Nikki is besig om geboorte te gee!"
Net twee huise van Stander af was Veronique 'Nikki' van Reenen besig om in kraam te gaan. Patricia gryp toe haar mediese handskoene en selfoon om te gaan help.
Sy werk as 'n versorger, hoofsaaklik met laat stadium kankerpasiënte en het ook al by ouetehuise gewerk, maar het geen ervaring om babas te vang nie. Sy is wel in die woonbuurt bekend as die persoon wat somtyds kan help met minder ernstige mediese voorvalle.
Toe Stander by die huis opdaag het sy 112 vir mediese hulp geskakel want sy het nie lugtyd gehad om die kraamnoodlyn te skakel nie. Die mediese dienste vra toe of iemand kan bystaan indien hulle te lank vat en Stander sê sy is bereid.
"Ek het gesien die kontraksies is naby mekaar en iets moet gedoen word. Nikki het nog op die bank gelê, maar toe ons besef die baba is op pad het ons op die vloer 'n bed gemaak," sê Stander.
Met haar aankoms was die kontraksies sowat vyf minute uit mekaar, maar dit het vinnig verkort tot twee minute.
"Ons het haar gemonitor en wanneer die pyn kom het ons vir haar gesê sy moet druk teen die pyne. Nie uit haar keel nie, maar uit haar maag," sê Stander.
Soos die babadogtertjie uitkom het sy seker gemaak die naelstring is nie om haar nek nie en Van Reenen gemotiveer om te bly druk want die skouers moet nog uit.
"Toe die baba uitkom was haar ogies wawyd oop en sy gee haar eerste huil en ek plaas haar op haar ma se bors. Ek het ook in die baba se mond gekyk om seker te maak daar sit niks vas nie," sê Stander.
Die geboorte het sowat 'n uur geduur en twintig minute later het die ambulans opgedaag. Die noodpersoneel het die ma ondersoek, die naelstring afgesny en vir mamma en dogter hospitaal toe gevat.
"Eers toe die ambulans wegry kon ek ontspan. Lyk my selfs op my afnaweek moet ek nou babas vang," sê Stander met 'n glimlag. Vir haar was dit baie spesiaal.
"Dit was 'n goeie daad so op die laaste dag van Vrouemaand," sê sy.
Die baba se naam is Faithlyn, maar Stander het haar die byname Grace en Precious gegee omdat die geboorte met genade gebeur het en die dogtertjie is baie waardevol.
"Dit is moederlike instink wat my gehelp het om die kind suksesvol die wêreld in te bring," sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’