GEORGE NUUS - Ses plakkershutte is verlede Sondag in 'n brand in Rosedale verwoes.
Brandbestryders van beide George- en Garden Route-brandweer was vinnig op die toneel en kon daarin slaag om drie van die nege strukture wat vlamgevat het, te red.
Die oorsaak van die brand word ondersoek. Niemand is ernstig beseer nie.
Die brand is net voor 12:00 aangemeld. Ofskoon die brandweer vinnig op die toneel was, is dit eers teen 15:00 volkome geblus.
Volgens die munisipale woordvoerder van George-munisipaliteit, Chantel Edwards-Klose, het openbare geweld kop uitgesteek en is pogings van die brandbestryders om hul taak uit te voer, belemmer. "Brandweerwaens is doelbewus beskadig," het sy gesê. Tydens 'n besoek aan die toneel Dinsdagmiddag het die George Herald by van die slagoffers verneem dat een van die brandweervoertuie sonder water by die toneel aangekom het. Hierdie inligting is onbevestig.
Volgens ooggetuies het dit gemoedere laat oorkook. "Hulle wou eintlik die brandweermanne bykom," het een persoon gesê. Dit is nie duidelik of die munisipaliteit 'n klag van opsetlike saakbeskadiging gelê het nie.
Waarheen nou...
Die gesinne wat dakloos gelaat is, word tans in die Rosedale-gemeenskapsaal gehuisves.
"Hulle sal daar tuisgaan tot die munisipale direktoraat vir menslike nedersettings tydelike behuising kan verskaf," het die munisipale bestuurder, Trevor Botha, gesê. Die boodskap wat hulle glo van 'n amptenaar by menslike nedersettings ontvang het, is dat hulle nie noodbehuising gaan ontvang nie. "Daar is vir ons gesê ons het onwettig grond beset, ons gaan nie strukture kry nie," het een van die slagoffers gesê. "En ons moet uit voor die naweek, want die munisipaliteit het die gemeenskapsaal nodig vir 'n funksie. Maar waarheen moet ons gaan?" Kommentaar van die munisipaliteit hieroor word afgewag.
Die funksie waarna die persoon verwys het, is 'n veldtog wat Saterdag en Sondag deur die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings gehou word om hul behuisingsdatabasis op te knap en potensiële kandidate te registreer. Die Rosedale-gemeenskapsaal is een van die venues wat vir die doeleinde gebruik gaan word. Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers, het by navraag bevestig dat hy bewus is van die situasie na die brand.
"My departement is in kontak met George-munisipaliteit wat 'n alternatiewe venue aan ons sal verskaf indien hulle nog nie alternatiewe verblyf vir die families kon verskaf nie," het hy gesê.
Skenkings
Sakke met kinderklere en ander items is deur die Eden Lions en inwoners regoor die dorp aan die families geskenk. Rosedale se wyksraadslid, Edmund Bussack, het onder meer koffie, tee, melk, suiker en ander benodighede aan die families oorhandig. Hy bedank almal wat donasies gemaak het.
Filda Martin, een van die mense wat geraak is, het laat blyk dat mans- en seunsklere, sowel as kos, dringend benodig word.
Botha het die George-brandweerdiens vir hul vinnige optrede geloof, sowel as vir die hulp wat hulle verlede naweek in 24 afsonderlike noodgevalle gebied het, waaronder grasbrande, ongelukke en 'n verdrinking.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'