GEORGE HERALD-REDAKTEUR, LIZETTE DA SILVA, SKRYF: Dinsdagmiddag is ek op pad huis toe na werk en ek sien dik rookwolke hang oor die Rosedale-plakkerskamp. Ek draai af en gaan kyk waarheen die twee brandweerwaens, wat voor my ry, op pad is. In die plakkerskamp staan al wat mens is rond in die nou straatjies.
Vier tot ses hutte brand en van die vroue wie se huise in die slag gebly het, staan met klein kindertjies op die heup met rooi gehuilde oë.
"Hoe nou gemaak? Ons het alles, alles verloor," sê een vrou angstig.
'n Vriendin probeer haar troos terwyl nog 'n vrou aan haar verduidelik hoe hulle probeer het om haar besittings uit te dra, maar dat die vlamme te vinnig versprei het.
Só saam met die gesprekke van die vroue, hoor ek hoe inwoners woedend skel oor hulle "in die vieslike omstandighede" moet woon.
"Ons het nie ordentlike huise nie. Ons was so iets te wagte. Wat het hulle gedink gaan gebeur as mense so moet bly? Op 'n hopie! Ons raadslid en die munisipaliteit doen niks. Ons is oorgelaat aan ons eie genade. Ons soek hulle nie nou hier nie, hulle moet gaan!" skree 'n man.
"Ja, die raadslid skitter in sy afwesigheid as ons vergaderings hou oor die dinge van Rosedale. Hy kom nie eens nie. Nou wil hy hier kom staan. Vir wat? Hy moet gaan," waarsku nog 'n vrou. By tye het dit geklink of die wag voor haar mond gedros het.
Ek staan 'n oomblik terug en aanskou die prentjie voor my en sien hoe 'n groep jongmanne op die dakke van die hutte staan terwyl hulle groot emmers water vir mekaar gooi in 'n poging om die brandweermanne te help wat op die grond die vlamme bestry. Waternat, kaalbors, sommige met tronk-tatoes op hul lywe, swoeg hulle voort. Dis nie hulle hutte wat afbrand of bedreig word nie, maar hulle is daar om te help.
Aan die Rosedalers: Daar is baie dinge wat nie reg is in Rosedale nie, dit weet ons almal, maar julle saamstaan was iets om te aanskou. As julle self nie so vinnig ingespring het nie, het meer hutte afgebrand.
Julle kla oor dienste, huise, misdaad en nog baie meer.
Maar, terwyl julle die munisipaliteit tot verantwoording roep - hulle bly immers verantwoordelik vir diens - pak solank van die ander probleme self aan. Beveilig die area, brandveiligheid inkluis, en maak die area skoon. Baie inwoners is werkloos, maar gesond en het baie tyd op hande om 'n waardevolle bydrae te lewer. Begin self projekte tot voordeel van die area.
Soos julle Dinsdag saamgestaan het om 'n ramp te voorkom, so kan julle ook saamstaan om Rosedale 'n stappie nader in die rigting van 'n ware dal van rose te stuur.
Lees 'n artikel oor die brand hier: 13 dakloos in Rosedale
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'