GEORGE NUUS - Rooivleiseters moes die afgelope jaar reeds buitengewone prysstygings van skaap- en beesvleis in hul begrotings inwerk.
Met besoekers wat soos gewoonlik die vraag na vleis in die Wes-Kaap gedurende die Kersseisoen gaan laat toeneem, kan verdere prysverhogings binnekort verwag word.
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) sê in 'n verklaring die produsenteprys van beesvleis het op 'n jaar tot jaar basis met 34% gestyg en dié van skaapvleis met 36%.
Dit was weens die daling van die aanbod van slagvee as gevolg van die uitslagting van kuddes gedurende die 2015-droogte (die land se droogste jaar sedert 1904).
Louis Wessels, voorsitter van die RPO, sê hoewel die droogte in die grootste gedeelte van die somerreënstreke met goeie reën gebreek is en die kuddeboufase begin het, duur die droogte in die Wes-Kaap voort en is dit nie hier die geval nie.
In die George-omgewing het boere die afgelope maand of twee bietjie verligting gekry danksy reën, maar Hennie Kuyler van Kuyler Broers Melkery sê opvolgreën is nodig.
"As dit 'n warm, droë somer gaan wees, gaan dinge weer lol, maar ons kyk boontoe. Die grondwatervlakke is nog laag en daar is damme wat water nodig het. In die Karoo waar skaapvleis vandaan kom, kring die droogte verder uit."
Implikasies vir rooivleisvoorsiening in Kersseisoen
Herman Rademeyer, bestuurder van Watsons-slaghuis in George, bevestig dat pryse met ten minste nog 10% sal styg. "Ons voorsien die tradisionele prysstyging tydens die Kersseisoen wanneer daar verhoogde vraag is.
"Dit sal nie vir alle vleis wees nie, maar wel vir die primasnitte van bees soos biefstuk, en braaisnitte soos sosaties en tjops.
"Goeie hoendersnitte sal ook styg, want daar het gekorte weens voëlgriep ontwikkel. Geprosesseerde vleis behoort nie so 'n groot styging te hê nie."
Wessels sê weens die 2015-droogte is 15% koeie in die kommersiële sektor en 16% van die land se ooikuddes uitgeslag. In die Wes-Kaap was die vermindering in die vroulike kuddes minder drasties en 6% ooie is uitgeslag en amper geen koeie nie.
"(Onder normale omstandighede) vind ongeveer 5% van Suid-Afrika se beesslagtings en 22% van alle skaapslagtings in die Wes-Kaap plaas.
"In November en Desember verhoog die gemiddelde beesslagtings in die Wes-Kaap tradisioneel van 11 500 per maand na ongeveer 14 000, terwyl skaapslagtings verhoog van gemiddeld 97 500 na tussen 135 000 tot 165 000."
Wessels sê as gevolg van die droogte in die Wes-Kaap, het produsente reeds hulle vee gekapitaliseer en kan verlaagde voorsiening in November en Desember in die Wes-Kaap te wagte wees.
"Die Namibiese bees- en skaapvoorsiening is ook nou in 'n dalende fase. Die Wes-Kaap as provinsie is in terme van beesvleisvoorsiening 'n netto-invoerder met 65% wat van ander provinsies ingevoer word. In terme van skaapvleis is die Wes-Kaap 'n netto-uitvoerder.
"Gegewe al die scenario's is die voorspelling dat vir beide bees- en skaapslagtings 'n laer voorsiening in terme van slagvee verwag word en dat pryse in die Kersmark nog verder in die Wes-Kaap kan styg.
"Die stygings behoort egter nie drasties te wees nie."
ARTIKEL EN FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'