GEORGE NUUS - "Woon ons in Pacaltsdorp of Pacalts-plaas?" Só vra 'n inwoner van dié gebied na talle klagtes oor rondloperdiere uit dié gebied ontvang is.
Diere soos beeste en perde word daagliks in woongebiede van Pacaltsdorp, veral Europe, Noordstraat, Beachweg en Delvillepark gesien.
"Wat sal gebeur as ek die perde en beeste vang en verkoop? Daar is tog niemand wat verantwoordelikheid vat vir hulle nie," sê 'n inwoner op Facebook terwyl ander kla oor nie net beeste en perde nie, maar ook rondlopervarke.
"Dis regtig 'n groot probleem. Nou die aand was die straat ook vol beeste in Andersonville en ons moes ook lelik uitswaai om hulle te mis," sê 'n inwoner wat verkies om anoniem te wees.
Rondloperdiere op of langs die N2 stel nie net die diere se lewens in gevaar nie, maar ook mense s'n. Sowat twee weke gelede is 'n perd op die N2 naby Pacaltsdorp doodgery.
Vernon Petersen, George-munisipaliteit se waarnemende direkteur van beskermingsdienste, sê daar word gereeld klagtes van perde en beeste wat in Pacaltsdorp se strate rondloop, deur wetstoepassers ontvang en baie word geskut en na die plaaslike DBV geneem.
Om hul diere dan terug te kry, is die eienaars verplig om die wetstoepassings-kantore te besoek waar 'n boete uitgereik word. Boetes is by die munisipale hof betaalbaar. 'n Boete word ook deur die DBV uitgereik.
"Wetstoepassers gaan voort met gereelde patrollies in die gebied en gee aandag aan klagtes met betrekking tot rondloperdiere waar nodig.
"Die publiek word versoek om die nood-nommer, wat 24/7 werksaam is, by 044 801 6300 te kontak om sulke voorvalle aan te meld. Die DBV kan ook gekontak word indien die publiek bekommerd is oor die welsyn van enige diere. Hulle staan die munisipaliteit by met die skut van perde en beeste ensovoorts," sê Petersen.
Rondloperperde is 'n gereelde gesig langs die paaie in Pacaltsdorp.
Perde moet gereeld uit mense se erwe verwyder word.
DBV bewus van rondloperdiere
Senior inspekteur by die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV), Salomé Bruyns, sê hulle is ten volle bewus van die probleem en is veral bekommerd oor die aantal perde wat in die strate rondloop.
"Ons is in die proses om 'n uitreik te reël om hingste te steriliseer en die onbeheerde teling te probeer hokslaan. Verder beoog ons ook om klinieke te organiseer om mikroskyfies in die diere in te plant en sodoende 'n databasis van die perde te skep sodat die eienaars verantwoordelikheid kan neem. Ons het egter die publiek se finansiële ondersteuning nodig om dit te kan doen," sê Bruyns.
Sy sê die DBV reageer op alle klagtes oor rondloperdiere en probeer hul bes om dadelik op alle oproepe te reageer.
"Ons het nie altyd onmiddellik 'n inspek-teur beskikbaar nie aangesien die area wat ons dek 5 191 vierkante km is. Alhoewel ons as die munisipale skut optree en nou met die munisipaliteit saamwerk om rondloperdiere te vang, is dit steeds die verantwoordelikheid van die munisipaliteit om groot diere soos perde en vee te vang. Aangesien ons egter 'n perdesleepwa het, help ons waar ons kan," sê sy.
Volgens Bruyns is hulle inspekteurs daagliks in Pacaltsdorp om siek, beseerde en rondloperdiere in te bring en te behandel.
"Ons doen egter 'n beroep op die publiek om ons dadelik te kontak indien hulle enige diere in die straat sien wat ons hulp nodig het."
Die DBV se inspekteurs kan 24 uur 'n dag bereik word deur 082 378 7384 na-ure te skakel of 044 878 1990 gedurende die dag.
'n Groep van minstens 150 rondloperbeeste wat Pacaltsdorp op horings neem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'