GEORGE NUUS - 'n Groep afgetrede lede het onlangs die inisiatief geneem om 'n reünie vir almal wat sedert 1987 by die Conville-polisiestasie gewerk het, te reël.
Hulle doen nou 'n beroep op alle huidige en voormalige kollegas om saam te kom en herinneringe te deel.
Volgens die organiseerders was dit maklik om weer kontak te maak, aangesien die groep van die begin af baie hegte bande gehad het. Sowat 110 lede het reeds bevestig dat hulle die reünie gaan bywoon.
Daar is ook kontak gemaak met die families van ongeveer 45 lede wat intussen oorlede is - hulle sal ook deel wees van die spesiale geleentheid.
Die eerste vrouelid, luitenant-kolonel Catherine van Wyngard was ook die eerste vrou van kleur wat in die groter George-, Knysna-, Thembalethu- en Plettenbergbaai-gebied by die polisie aangesluit het.
Die organiseerders sê die reünie is nie net 'n geleentheid om goeie tye te herleef nie, maar ook om huidige lede te inspireer.
"Gemeenskapsdiens moet altyd sentraal bly, al het die behoeftes van ons gemeenskappe met tyd verander. Dit bly belangrik om te fokus op die basiese: om mense teen misdaad te beskerm," sê Van Wyngard.
Die kameraderie tussen lede het dit maklik gemaak om mekaar weer te vind en stories te deel.
Die reüniekomitee bestaan uit afgetrede lede Catherine van Wyngard, Rodville Simons, Fabian Abrahams, Gerhard Wiese en Pamela Lesibanie, asook diensdoende lede Rosmund Stripp en Norma Jegels.
'n Spesiale woord van dank gaan aan luitenant-kolonel Leon Barendse (afgetree), wat as "telefoongids" gehelp het om oudlede en familie op te spoor.
Program
26 September: Ontmoetingsgeleentheid en dans by Conville-gemeenskapsaal
27 September: Spitbraai, Ebb and Flow
28 September: Kerkdiens by die Baptiste Kerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’