Meyer het aan die finale wedren in die V8 Flexi-afdeling, wat ook die laaste wedren vir Saterdagaand 7 Junie se George-motorklub ovaalbaanwedren in George was, deelgeneem toe sy motor om 'n draai gly en teen die veiligheidsmuur bots. "Die slag was hard en ek kon voel ek het seergekry, maar toe ek petrol ruik en hoor iets lek uit 'n pyp, het ek besef die motor gaan aan die brand slaan. My instink het vir my gesê 'hier moet ek uitkom'."
Hy kon sy veiligheisdgordels loskry om uit te klim, maar sê sy been het meegegee en hy het langs die motor inmekaargesak. "Ek het baie pyn gehad en kon voel my ribbes is ook beseer."
Dirk van der Westhuizen, 'n ervare tegniese beampte tydens ovaalbaanwedrenne en die voorsitter van die Oudtshoorn Motorklub het gesê die vlagman het onmiddellik gesien Meyer is beseer. "'n Bakkie met brandblussers was vinnig op die toneel en Meyer het daarna mediese hulp ontvang en is per ambulans na die hospitaal geneem, maar is later weer ontslaan."
Meyer het al aan sowat 60 ovaalbaanwedrenne deelgeneem in die laaste 10 jaar. "Dit was my vyfde wedren met die splinternuwe Toyota Flexi met 'n Lexus-motor in. Ons is reeds besig om te bou aan 'n soortgelyke nuwe Flexi." Meyer het gesê hy was al in baie ongelukke betrokke en alhoewel die laaste een die ergste was, is hy nie bang om weer agter die stuur in te klim nie.
Van der Westhuizen sê ten tye van die ongeluk was 70% van die wedren voltooi en volgens die reëls word die voorloper na 70% aangewys as die wenner. Die wenner was Bennie Greyling, ook die voorsitter van die George Motorklub.
Die volgende ovaalbaanwedren word op Saterdag 21 Junie om 14:00 op Oudtshoorn aangebied, gevolg deur een van die grootste wedrenne in die land, die Klein-Karoo-kampioenskap op Saterdag 12 Julie om 13:00, ook op Oudtshoorn.
* A George Oval race driver, Clive Meyer, narrowly escaped death last Saturday 7 June when his Toyota Flexi V8 went up in flames after crashing into a safety wall during the final of the V8 races. Meyer was treated for minor rib and leg injuries and is already building a new Toyota Flexi for the next race.
Meyer se splinternuwe Toyota Flexi met 'n Lexus-motor word na die ongeluk weggesleep.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'