TUINROETE NUUS - Die beweerde reeksverkagter van Mosselbaai staar verskeie aanklagte van verkragting in die gesig.
Die 39-jarige man het op Dinsdag 16 Januarie in die Mosselbaai-streekhof verskyn.
Twee nuwe aanklagte van verkragting is tydens die hofsaak by die klagstaat gevoeg.
Die nuutste aanklag hou verband met twee verkragtings in 2010 en 2011.
Die verdagte staan dus nou tereg op altesaam agt aanklagte.
Die verdagte is in Desember 2016 in die George-gevangenis in hegtenis geneem, waar hy verhoorhafwagtend was op ander sake van verkragting.
Die arrestasie volg byna 10 jaar nadat een van sy slagoffers, 'n 4-jarige meisie van Mosselbaai, wreed verkrag is.
Op die betrokke dag 10 jaar gelede het die bebloede slagoffer en haar ma by die kantore van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld-, kindermishandeling- en seksuele- misdrywe (GKS) ingestap.
Die vrou het aan polisiebeamptes gesê dat haar kind pas deur 'n vreemde man verkrag is.
'n Ondersoek het daarop gedui dat die kleuter om 08:00 op die betrokke oggend alleen na haar kleuterskool gestap het, toe die verdagte, wat aan haar onbekend was, haar genader het en aangebied het om vir haar 'n pakkie tjips te koop.
Volgens die polisie het die verdagte dit vir haar gekoop en met haar in die rigting van 'n beboste gebied gestap.
Daar het hy haar brutaal verkrag en haar geslaan tot haar kakebeen gebreek het.
Volgens die ondersoekbeampte in die saak, ao. Tata Marks was die meisie se blou langbroek bedruip met bloed.
Adjudant-offisier Marks het die ma en die kind in sy voertuig gelaai en die meisie gevra om hom te gaan wys waar dit gebeur het.
Die slagoffer is destyds na die Mosselbaai-hospitaal geneem waarna sy met 'n helikopter na die George-hospitaal geneem is.
Daar is sy in teater behandel waarna sy met 'n helikopter na die Rooikruis-kinderhospitaal geneem is.
Sy is nou 14 jaar oud en woon steeds op Mosselbaai.
Polisie het die verdagte met die verkragting verbind deur 'n enkele haar wat in haar broekie gevind is en toe vir ontleding gestuur is.
Die polisie kon nie semen kry om te ontleed nie, omdat die slagoffer so erg gebloei het.
Volgens die polisie het die resultate van DNS monsters wat destyds na 'n laboratorium gestuur is, lank gevat oor daar 'n oponthoud in die stelsel was.
Die saak is uitgestel na 23 Februarie vir verhoor.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'