GEORGE NUUS - 'n Radiodrama wat Tuiniqua-inwoner Coenie Ritter tydens die Covid-19-inperkings geskryf het, is onder die 12 bestes wat gekies is uit 384 inskrywings vir die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie.
Dit gaan waarskynlik op RSG uitgesaai te word. Die aktiewe 79-jarige Ritter is in sy noppies oor sy stuk, Tom kom uit, se prestasie.
"Ek weet nie wanneer dit op die lug gaan kom nie, maar ek is gevra om toestemming te gee dat dit uitgesaai kan word," sê hy.
Ritter is 'n makelaar wat steeds 50 kliënte se versekering behartig.
Sy dramastuk handel oor Tom, die finansiële bestuurder van 'n maatskappy wat weens diamantdiefstal in die tronk beland nadat sy afgetrede direkteur staatsgetuie teen hom draai. Met sy finansiële bestuurder agter tralies, trou die direkteur met die gevangene se eksvrou.
Die finansbestuurder dien uiteindelik sy tronkstraf uit, die direkteur sterf in 'n beplande skietongeluk, en 'n pakkie diamante wat in 'n Namibiese bank in veilige bewaring gehou is, word gevind...
Ritter vertel dat hierdie 'n skryfuitdaging was wat hy vir vyf jaar uitgestel het, maar met meer tyd tot sy beskikking tydens die inperking het hy die moed bymekaargeskraap om pen op papier te sit.
"Dit was 'n massiewe klomp werk. Daar was allerhande streng vereistes oor sinskonstruksie en plasing van dialoog. Die drama moet binne 1 uur afspeel."
Hy sê die skryf- en toneelgogga het onder sy vel ingekruip nadat hulle 36 jaar gelede in George aangeland en hy gevra is om 'n klein rolletjie in 'n opvoering te vertolk.
Daarna het hy talle toneelstukke geskryf en self daarin opgetree wanneer dit in die George-kunsteteater opgevoer is. Hy het ook sy eie toneelgeselskap gehad wat getoer het na die KKNK, Gqeberha, Worcester en Queenstown.
Toe Coenie en sy vrou, Trudie 'n paar jaar gelede hulle intrek by Tuiniqua geneem het, het Ritter die talent onder die afgetredenes bymekaargehark vir 'n jaarlikse Kersspel en Paasspel, verskeidenheidskonserte en klein toneeltjies wat inwoners kans gegee het om op te tree en bietjie skeppend te wees terwyl hulle saam pret het.
"Dit is werklik my passie, maar ongelukkig is dit vir eers deur die pandemie gekelder. Ons is egter hoopvol dat ons dit in die nabye toekoms sal kan hervat."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'