GEORGE NUUS - Die Conville-polisie is op soek na 'n verdagte ná 'n paramedikus se radio uit 'n ambulans gesteel is.
Die voorval het Sondag 10 Desember kort voor middernag in Borcherds plaasgevind.
Die ambulans was na bewering voor 'n huis in Figelandstraat geparkeer terwyl een van die paramedici in die huis na 'n pasiënt omgesien het en die ander agter in die ambulans was.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die paramedikus wat agter in die ambulans besig was, gesien hoe 'n onbekende man die ambulans se deur aan die bestuurder se kant oop en toe maak.
"Met sy terugkeer het hy sy kollega daarvan vertel en dié het toe gesien sy persoonlike Pioneer-radio, waarop hy musiek luister, is weg."
Die waarde van die radio is sowat R700. Niemand is aangeval of fisies beroof soos in ander berigte genoem word nie.
Niemand is in hegtenis geneem nie en die saak word nog ondersoek.
Indien enigiemand inligting rondom die voorval het skakel die ondersoekbeampte, sers. Renaldo Cherry by Conville-polisie by 044 8033 302 of Stop Misdaad by 08600 10111.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'