GEORGE NUUS - 'n Bekende sakeman van George, Johan Rademan, het ingestem om aan die stuur van die reëlingskomitee van die George-oumotorskou vir 2020 te staan.
Hy is nou die voorsitter van die komitee van die gewilde motorskou wat aanstaande jaar op 8 en 9 Februarie gehou gaan word. Dit sal die 23ste skou wees.
Die skou vind elke jaar onder die vaandel van die Suid-Kaap-oumotorklub by PW Botha-kollege plaas en is een van die gewildste geleenthede in George. Dit lok besoekers landswyd en in die verlede het dit selfs besoekers uit die buiteland gelok.
In 'n onlangse uitgawe van Spanner, nuusbrief van die Suid-Kaap-oumotorklub word geskryf dat die voorbereidings vir die 2020-skou op koers is en dat Rademan ingestem het om as voorsitter te dien. Rademan sê hy het ingestem omdat hy 'n verskil wil maak en die skou as belangrik ag.
Hy het benadruk dat die skou beslis aanstaande jaar by PW Botha-kollege in Yorkstraat gehou sal word.
Net soos in die verlede gaan die skou nie oor wins nie en baie van die geld wat ingesamel word, sal aan verdienstelike organisasies en instansies geskenk word.
Volgens Rademan is verskeie borge reeds aan boord en alles verloop volgens plan. As dit suksesvol is in 2020, sal dit moontlik daarna weer by PW Botha-kollege gehou word.
Hy het vorige komiteelede bedank vir hul hulp en nalatenskap.
Rademan het mense wat betrokke wil raak genooi om 'n e-pos te stuur aan spanner@scocc.co.za
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'