MOSSELBAAI NUUS - Group Editors se Suzette Herrer is by die mees onlangse ope munisipale raadsvergadering deur die raad vereer vir haar 40 jaar diens by dié maatskappy en aan die Mosselbaai-gemeenskap.
In 1984 het Herrer, as die jongste redakteur van 'n gemeenskapskoerant in Suid-Afrika, by Group Editors aangesluit. Eers was sy redakteur van die George Herald, en 'n jaar daarna van die Mossel Bay Advertiser.
Herrer is ‘n naam sinoniem met dié plaaslike koerant.
Burgemeester Dirk Kotzé sê onder Herrer se leiding is die geskiedenis van die afgelope 40 jaar van ons pragtige dorp opgeteken – “die goeie en die slegte, die alledaagse gebeure, en die munisipale gebeure en mylpale”.
“Suzette het oor die jare hard gewerk om goeie verhoudings met inwoners, gemeenskapsinstellings, adverteerders en die verskillende burgemeesters en munisipale rade wat sy al sien kom en gaan het, te vestig en te handhaaf.”
Herrer is vroeër vanjaar bevorder van redakteur van Mossel Bay Advertiser na groepredakteur oor Group Editors se ses koerante, insluitend Mossel Bay Advertiser, George Herald, Suid-Kaap Forum, Knysna-Plett Herald, Oudtshoorn Courant en Graaff-Reinet Advertiser.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’