Gallery
GEORGE NUUS - Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum in Denneoord se eerste Môreson Myl het met dawerende sukses op 23 April by Pine Lake Marina in Sedgefield, afgeskop. Dié splinternuwe jaarlikse geleentheid het swemmers van alle ouderdomme en van oral gelok.
Tydens die geleentheid, die geesteskind van die plaaslike ystermanatleet, Heinrich Muller, is R70 000 vir die sorgsentrum ingesamel. Muller het 20 km geswem om geld vir die sentrum in te samel om hul veiligheidsheining op te gradeer.
Volgens Môreson se hoof, Angelique Durant, was dit 'n tweeledige geleentheid.
"Een deel was om vir Heinrich borge in te samel vir sy swempoging en die tweede deel was 'n een myl swem waar lede van die publiek, asook alle ystermanatlete later die jaar in Mosselbaai kan deelneem," sê sy.
Altesame 43 swemmers het aan die Môreson Myl-swem deelgeneem en orga-niseerders is dit eens dat dit beslis weer volgende jaar aangebied gaan word.
FOTOGALERY: Môreson Myl het R70 000 ingesamel
Die wenners van die mansafdeling was eerste Christiaan Hattingh met 'n tyd van 00:23:30, tweede Tylor Koen met 'n tyd van 00:26:38 en in derde plek was Ula van der Merwe met 'n tyd van 00:26:50. Saam met die mans is Piney, Pine Lake Marina se gelukbringer. Foto: Deidré Cloete
Volgens Durant het Pine Lake Marina en ander instansies soos die plaaslike NSRI klaar aangedui dat hulle volgende jaar weer betrokke gaan wees.
"Na twee baie moeilike en onseker jare vir individue en niewinsgewende organisasies is ons so bevoorreg en dankbaar vir mense soos Heinrich en elke vrywilliger, donateur en organisasie wat bygedra het om 'n verskil te maak in die lewens van die 100 kinders in ons sorg. Die hart van George kon duidelik gesien word in die ondersteuning wat ontvang is. Ons sê ook dankie aan die swemskole van Sybeth Hughes (Fish Eagle Aquatics) en Mimette Salter (Royal Swimming Academy) wat vir die kinders van Môreson meer geleer het oor waterveiligheid," sê Durant.
Muller, wat die 20 km in 'n tyd van 07:35 suksesvol afgelê het, sê hy is dankbaar vir almal se ondersteuning.
"Ek is veral dankbaar vir Johan le Grange wat die 20 km saam met my geroei het. Bo alles sê ek dankie aan die Hemelse Vader.
"Dit was vir my 'n baie emosionele ervaring om die eindstreep te haal en die kinders se opgewonde gesiggies te sien. Dankie aan almal wat geglo het in die projek en gehelp het om dit 'n sukses te maak."
Tydens die eerste Môreson Myl het die sentrum se kinders ook van waterveilgheid geleer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'