Dit is voltooi na jare se beplanning en onderhandelings met Eskom asook die verkryging van satutêre goedkeurings en ‘n uitgebreide omgewingsimpakstudie, het die waarnemende burgemeester, mnr. Lionel Esau, by die openingsfunksie gesê.
"Die eerste fase van die opgradering van die hooftoevoer na George is in Junie 2010 afgehandel toe die Proefplaassubstasie teen R16 miljoen voltooi is. Die totale koste vir die opgradering van George se elektriese toevoer vanaf Eskom, insluitend ‘n Eskomrekening van nagenoeg R45 miljoen vir die nuwe 132 kV-aansluiting, beloop R126 miljoen. Die 132 kV-Eskomaanslui-ting sal voor die einde van die jaar voltooi wees."
"Die daarstelling van die Schaapkop-substasie maak ruim voorsiening om vir nog baie jare aan die elektrisiteitsbehoefdes van George te voorsien," het Esau gesê.
"George se elektriese verbruik is tans sowat 80 MVA (megavolt-ampère) en die vermoë van die nuwe transformator by Schaapkop-substasie is 120 MVA. Die substasieuitleg maak ook voorsiening vir ‘n toekomstige tweede en derde transformator. Die huidige Eskomtoevoer vanaf Blanco-substasie sal behoue bly om die betroubaarheid van die toevoer te verbeter."
Ou kragstasie
Esau het die geskiedenis van George-munisipaliteit se kragvoorsieningsnetwerk toegelig. Die dorp het in April 1973 vir die eerste keer Eskom-toevoer gekry toe die ou 66 kV-houtpaaltoevoerlyn voltooi is. Voor 1973 het die ou kragstasie in Albertstraat in al George se elektrisiteitstoevoerbehoeftes voorsien.
Die kapasiteit van die ou houtpaal-toevoerlyn het onvoldoende geraak en die nuwe dubbelbaan 66 kV-kraglyntoevoer na George is in 1988 voltooi.
"Die vermoë van hierdie drie kraglyne het nou onvoldoende geraak en die vermoë van Eskom se hooftoevoer na George, Knysna en Plettenbergbaai vanaf Eskom se Blanco-substasie in Geelhoutboom word versterk weens die toenemende vraag na elektrisiteit," het Esau gesê.
Die ou 66 kV-houtpaaltoevoerlyn na George sal deur Eskom vervang word met ‘n 132 kV-dubbelbaankraglyn deur George tot in Plettenbergbaai. George verloor dus die vermoë van die ou 66 kV-houtpaallyn, maar het nou die geleentheid om gebruik te maak van die nuwe Eskom 132 kV- kraglyn om sy vermoë aan te vul.
"Die bou van hierdie Schaapkop 132/66/11 kV-substasie is in terme van George-munisipaliteit se meesterbeplanning en in samewerking met Eskom se beplanning vir die hele streek gedoen om te verseker dat daar voldoende kapasiteit is."
Mees moderne tegnologie
Volgens Esau is daar by die nuwe substasie van die mees moderne tegnologie gebruik gemaak. Optiese veselkabels word as kommunikasiemedium binne die substasie tussen die buitetoerusting en die beveiligingspanele gebruik. Die tipe 132/66/11 kV-transformator is ook die grootste wat nog deur Actom in Suid-Afrika vervaardig is.
Kevin Grünewald, direkteur: elektrotegniese dienste, het die stadsraad geloof oor die insig wat hy gehad het om die projek te steun en die fondse daarvoor te bewillig.
.jpg)
By die opening van die Schaapkop-substasie was (van links) Danie de Vries, raadgewende ingenieur van BDE, waarnemende burgemeester Lionel Esau, direkteur van elektrotegniese dienste Kevin Grünewald, rdl. Henry Jones, Rdl. Iona Kritzinger, waarnemende munisipale bestuurder Trevor Botha en rdl. Jacoba Muller.
ARTIKEL: ALIDA DE BEER