GEORGE NUUS - 'n Groepie amateur-akteurs doen tans die ronde by skole met 'n toneelstuk, Original Image, wat die storie van die ontworteling en onderdrukking van die inheemse mense van Hoogekraal vertel.
Die kyker word ingetrek by die intense emosies van vernedering, pyn en wanhoop van die slagoffers, maar die stuk eindig op 'n hoopvolle noot wanneer Quaanitah Simons (voorsitter van die George-museum se bestuurskomitee) afsluit met 'n epiloog waarin vergifnis uitgespreek word teenoor dié wat onreg gepleeg het sodat die bagasie van die verlede afgegooi kan word.
Neil Carelse, die inheemse regte-aktivis van Blanco, en Mona Olieslager (73), hou ook hulle lyf akteur en lewer gevoelvolle en meesleurende monoloë.
Kirri Koerd, !Gam Sylvester en Melissa Treurnicht sorg vir agtergrondgeluide en die monoloë word afgewissel met rieldanse.
Carelse sê: "Ons besoek skole om kinders 'n blik te gee op die verontmensliking en swaarkry waaraan ons mense onderwerp is. Dit is 'n greep uit ons geskiedenis wat ons nie wil laat verlore gaan nie en wat kinders nie altyd op skool leer nie. Met ons optredes lig ons ook die gemeenskap in oor die herbegrafnis van die menslike oorskot van inheemse mense uit drie museums in die Suid-Kaap. Dit vind in Julie plaas."
Die toneelstuk is gebaseer op Carelse se gedig, Die volk van die heuningversamelaars, oor die geskiedenis van Hoogekraal uit sy bundel Bloedgrond wat 'n paar jaar gelede gepubliseer is. Carelse het ook al 'n boek met inheemse kinderverhale gepubliseer.
Quaanitah Simons, geboë onder die las van die onderdrukkers.
!Gam Sylvester, Mona Olieslager (middel) en Melissa Treurnicht skep agtergrondklank. Foto's: Alida de Beer
Inwoners van die Rosemoor-ouetehuis is spesiaal na die George-museum gebring om die opvoering te sien.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'