GEORGE NUUS - Daar behoort darem iets van PW Botha in George behoue te bly ter wille van die groot bydrae wat hy gelewer het. Dit is die pleidooi van Abrie de Swardt, jare lange inwoner, wat wyle Botha persoonlik geken het.
Sy pleidooi kom nadat PW Botha Kollege onlangs besluit het om die skool se naam te verander na die Hoër Tegniese Skool Eden. Daarna het dit ook bekend geword dat pogings aangewend word om die naam van PW Botha-boulevard in die nywerheidsgebied te verander.
De Swardt het gesê daar kan sekerlik in die breër landsopset negatiewe dinge deur sommige aan Botha gekoppel word.
Hy glo egter daar moet gekyk word na die bydraes wat Botha vir 40 jaar as volksraadslid van George gelewer het.
Hy erken dit is 'n sensitiewe saak, maar hou voet by stuk oor die voormalige president se waarde. "PW Botha kan nie net uit die geskiedenis van George weggeskryf word nie. As hy nie die bydraes gelewer het nie, sou George net 'n stippel in Suid-Afrika en die wêreld gewees het."
Abrie de Swardt, jare lange inwoner wat wyle PW Botha geken het. Foto: Eugene Gunning
Botha se bydraes
De Swardt se eie familie was betrokke by onderhandelinge met Botha oor grond wat afgestaan moes word vir die George-lughawe. Dit het uiteindelik ekonomiese en toerismevoordele gehad. Hy sê die hele Suid-Kaap is daardeur bevoordeel.
Botha het ook 'n rol gespeel in die bou van die dubbelpad tussen George en Mosselbaai.
Voorts het Botha volgens De Swardt bydraes gelewer om bosbou en verwante bedrywe te help. Hy het ook landbou gehelp in die vestiging van 'n aanleg vir bevrore voedsel.
De Swardt verwys ook na Botha se rol in die uitbreiding van die provinsiale hospitaal. Dit het die weg gebaan vir die vestiging van George as die mediese hartklop van die Suid-Kaap. As seun het De Swardt dikwels saam met sy pa na vergaderings van Botha gegaan.
Hy onthou Botha as 'n beleefde man en iemand wat glad nie rassisties was nie. Volgens hom het al die inwoners by sy optrede gebaat en nie net 'n sekere bevolkingsgroep nie.
PW Botha-boulevard in die nywerheidsgebied dra nog die naam van die eertydse president.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'