Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Mediclinic Geneva is 'n miernes van bedrywigheid soos wat mense opdaag vir die hospitaal se Covid-19-inentingsveldtog, #Save1000, wat vandag (Saterdag 28 Augustus) aangebied word.
Volgens die bestuurder van die inentingskliniek, Jeanette le Roux, het mense al van 06:00 af begin opdaag. "Ons het 'n halfuur vroeër, om 07:30 begin. Ons is bly om hierdie ywerige reaksie te sien. Ons nooi die publiek om van die geleentheid gebruik te maak om hulle vandag te laat inent," sê Le Roux.
Die mikpunt is om teen 18:00 vanaand 1 000 mense in te ent.
Karin en Sam Hewitt het gekom vir hulle tweede Pfizer-inenting. Sam sê, "Ons almal moet maar gaan. Hoe gouer ons almal ingeënt is, hoe gouer kan ons terugkeer na 'n normale lewe."
Kyk 'n video hieronder.
Tracy Stemmet van Toyota sê sy werk baie met die publiek en is baie gelukkig om vandag haar eerste inenting te ontvang. "Dit het vinnig gegaan. Ek is onder 'n uur deur die proses en moet net die wagtyd nog voltooi."
Catherine Williams sê sy is verskriklik bang vir naalde so sy was senuweeagtig voor die inspuiting. "Maar dit was darem nie seer nie en die personeel was werklikwaar so vriendelik, dit was wonderlik."
Catherine Williams en Pieter Sharp sit vir hulle 15 minute wagtyd na inenting.
Karin en Sam Hewitt het gekom vir hulle tweede Pfizer-inenting.
Livingstone Daweti is een van die gawe sekuriteitsbeamptes wat hand bysit om mense in die regte rigting aan te dui.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'