GEORGE NUUS - Inwoners van die informele nedersetting in Pacaltsdorp, Moeggehuur, het vanoggend vroeg n protesoptog gehou oor geen of min munisipale dienste.
Volgens inligting, het inwoners van Schaapkopvallei ook by die optog aangesluit.
Shaun Hector, n inwoner en gemeenskapsleier van Schaapkopvallei, sê daar was sowat 70 mense wat deel was van die protesoptog.
“Hulle het nog nooit ons spreilig wat reeds goedgekeur is, aangebring nie, en die waterpunt kan nie al die mense bedien wat onlangs hier ingetrek het nie. Moeggehuur se mense wat by ons aangesluit het, wag ook nog vir dienste wat glo reeds deur provinsie goedgekeur is."
Hector sê die mense is bang siektes gaan vinniger versprei met net een waterpunt vir die nuwe uitbreiding en geen toilette nie.
Volgens Hector drink die kinders met hul monde aan die kraan, asook enige verbyloper.
Die polisie het mense gearresteer nadat die pad versper is en buitebande aan die brand gesteek is.
Die inwoners was glo ontevrede met die antwooorde van die afgevaardigdes van die George-munisipaliteit wat hulle toegespreek het.
Lede van publieke orde polisie (Pops) moes skokgranate gebruik om die oproeriges uiteen te jaag.
Raadslid Teresa Fortuin is genader vir kommentaar, maar wou nie met die media praat nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'