Charles Standers, George se uitvoerende burgemeester het die pretloop gelei met raadslede Bevin Fortuin, Wilbur Harris en Gert Niehaus. Verskeie staatsdepartemente, skole en nie-regeringsorganisasies het ook aan die 2 km pretloop vanaf Mount View-oord tot by die George-munisipaliteit deelgeneem.
Na afloop van die pretloop het die kinders die blou ballonne wat hulle by die wegspringpunt ontvang het, in die lug vrygelaat as simbool vir die vryheid wat elke vrou en kind behoort te geniet.
'n Kort program is binne die gemeenskap-saal aangebied waar die wenners van die skolekompetisie aangewys is. Sowat 90 pryse, wat deur inwoners en ondernemings in George geborg is, is aan leerders uitgedeel.
Die laerskoolleerders se kleurvolle prente waarin hulle vanjaar se tema 'Gelukkige gesinne' moes uitbeeld, was in die voorportaal uitgestal.
Mnr. Fernando Tallie van die onderwysdepartement, het sterk klem gelê op die kosbaarheid van kinders en vroue en gevra dat almal 'n gesindheid kweek van omgee.
Standers het gesê die stilte oor misdaad moet gebreek word. "Ons moet ophou sê dis nie ons besigheid as ons geweld sien en net ons stemme laat hoor as dit iemand na aan ons raak nie. Ons moet ophou wegkyk."
Mnr. Muller Redelinghuys, senior staats-aanklaer in George het gesê die morele waardes binne ons gemeenskappe moet herstel word as ons gesinsgeweld en seksuele misdrywe hok wil slaan.
Gerda Marx, bestuurder van die Thutuzela-sentrum wat met slagoffers van seksuele geweld werk, het ook 'n kers aangesteek vir alle slagoffers van geweld.
Sien nog foto's hier.

Gerda Marx steek 'n wit strikkie aan vir me. Kay Hermanus van die Rosemoor Tehuis vir Bejaardes. Die tehuis se trompoppies het ook aan die pretloop deelgeneem.

Raadslede Wilbur Harris, Bevin Fortuin en Iona Kritzinger.

Personeel en inwoners van die Phambili Shelter for Battered Women.
FOTO'S: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS