Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Ontvoering, afpersing en gevalle waar iemand dreig om selfmoord te pleeg of ander se lewens te neem is tipiese situasies waarvoor kaptein Carmen Elliott se hulp ingespan word.
Met haar breë glimlag en potblou oë, dien Elliott haar land vir bykans 26 jaar as lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Toe die geleentheid hom voordoen het Elliott haar ook bekwaam as 'n gyselaaronderhandelaar, wat vereis dat sy enige tyd van die dag of nag 'n oproep kan ontvang om in kritieke situasies te help.
Sy het destyds haar loopbaan in Randfontein begin, en haar tande geslyp as lid van die Johannesburg-blitspatrollie. Daarna was sy etlike jare by haar groot liefde, die honde-eenheid, betrokke. Sedert 2010 beklee Elliott die pos as stafoffisier van generaal-majoor Oswald Reddy by die polisie se areakantoor in George.
Volgens Elliott wou sy nog altyd 'n gyselaaronderhandelaar wees, sedert sy by die polisiediens aangesluit het. Sy is tans die enigste onderhandelaar in George, en een van 11 in die streek wat strek van Beaufort-Wes, regdeur die Tuinroete tot by Heidelberg-polisiestasie. "Dit was 'n tawwe kursus. Hulle toets of jy kan werk onder buitengewone emosionele en liggaamlike druk," het sy gesê. Diegene wat die kursus loop word aan psigometriese toetse onderwerp en moet die kursus met minstens 75% slaag.
Op 'n vraag of sy as vrou vinniger 'n band kan vorm met diegene wat in die situasies betrokke is, as haar manlike kollegas, het Elliott die volgende geantwoord:
"Elke toneel is anders. Wanneer jy daar instap ontwikkel jy 'n gevoel vir die situasie en die persoon. Jy weet baie vinnig of jy hond haar af gaan maak, en of jy die toneel moet oorgee aan 'n kollega. Dit gebeur soms dat iemand beter reageer op die sterk teenwoordigheid van 'n manlike onderhandelaar. Met ander vorm 'n mens weer vinnig 'n band."
Volgens Elliott se ondervinding is November / Desember en Maart /April die tye in die jaar wanneer haar hulp die meeste benodig word. "Mense raak baie eensaam en hartseer oor die Kerstyd en ek dink die finansiële jaareinde in Maart en April het 'n invloed op diegene wat finansieel swaarkry," het sy gesê.
"Mense wat met bipolêre depressie en gedragsversteurings gediagnoseer word los soms hulle medikasie en dan raak dinge buite beheer. Soms het 'n mens te doen met mense wat dwelms gebruik en dan heeltemal die pad byster raak." Die jongste persoon wat Elliott moes help was 'n elfjarige kind wat met selfmoord gedreig het.
Sy vind haar werk ongelooflik vervullend en haar oë sprankel wanneer sy gevalle herroep wat haar vandag nog bybly.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'