GEORGE NUUS - Die plaaslike polisiebestuur ondersoek die situasie wat vroeër die maand by die Pacaltsdorp-polisiestasie geheers het, toe slegs twee polisiebeamptes na bewering aan diens was.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het vandeesweek gesê hulle ondersoek na die bewerings gaan voort en daar word na oplossings gekyk om seker te maak dat die situasie hom nie weer herhaal nie.
"Ons wil die publiek gerusstel dat vinnige en kwaliteit dienslewering aan die publiek vir ons steeds 'n prioriteit is.
"Sou daar enige probleme opduik, is polisiebeamptes van ander stasies binne 'n 10 km radius sou hulle ontbied word.
"Ons het ook al die polisiebeamptes, wat verbonde is aan die gebiedskantoor se taakspan, wat enige plek, enige tyd ontplooi kan word sou dit nodig wees."
Pojie sê Pacaltsdorp het ook reserviste en aktiewe buurtwaglede wat die polisie oor naweke bystaan en hul areas patrolleer.
Inwoners het hulle kommer oor dienslewering by die stasie uitgespreek nadat hulle lank moes wag wanneer hulle die polisie ontbied het.
"Daar is nie genoeg polisiemanne by die stasie nie. Van die min wat daar is, boek daar sommige nog af siek ook. Kyk die polisie na dié wat so af siek boek? Daar is jou willie-werkers, maar is van die manne en vroue nie soms oorwerk nie?
"Daar is 'n handjie vol speurders wat sake ondersoek, en hulle self sit met honderde dossiere," het een inwoner met insae in die stasie se sake gesê.
Pojie sê hulle neem kennis van die inwoner se opmerkings en respekteer dit.
“Die situasie is nie uniek tot Pacaltsdorp nie, maar kom elders ook voor. Dit is egter ‘n bestuursuitdaging wat op ‘n hoër vlak hanteer word.
"Boonop moet ook onthou word dat beamptes geregtig is op ‘n sekere aantal vakansiedae wat hulle voor ‘n sekere tydperk moet neem. Wat siekteverlof betref, is dit iets wat mens nie kan beplan nie, omdat dit onvoorsien gebeur.
"Ons het wel meganismes in plek om die misbruik daarvan te monitor en sou daar enige misbruik wees, het ons prosesse in plek om dit aan te spreek."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'