GEORGE NUUS - "Alle lede by al ons stasies word gedurig aangemoedig om PPE (Personal Protection Equipment) wat maskers, handskoene en handreinigingsmiddel insluit, te gebruik," sê kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder.
Hy het by navraag kommentaar gelewer nadat 'n leser van George Herald vrae gehad het oor die dra van maskers deur lede van die polisie en die was van hande van die publiek wanneer hulle polisiekantore betree.
Volgens die leser was daar onlangs geen sulke stappe by twee polisiestasies naamlik in Courtenaystraat in George se stadskern en by Pacaltsdorp nie.
Pojie het gesê daar word op 'n daaglikse basis opnames rakende die beskikbaarheid van die PPE gedoen om te verseker dat voorrade opdateer/aangevul word.
"Persoonlike inspeksies by die vermelde stasies toon dat die lede volledig en voldoende toegerus is met vermelde hulpmiddels. Daar word ook voorsiening gemaak vir lede van die publiek wat ons persele besoek deurdat hulle hande ontsmet word en ook die nodige sosiale afstand gehandhaaf word."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'