GEORGE NUUS - Die jaarlikse Kersmark in die kerksaal van die NG Moedergemeente het al 'n instelling geword, maar dit was so hittete of die plakkate wat die geleentheid bemark, was vanjaar nie sigbaar nie.
Die mark word al 25 jaar aangebied en gewoonlik sit die organiseerders plakkate op.
Gerda Stols, organiseerder van die Kersmark het Dinsdag gesê nog nooit vantevore was daar probleme met die aanbring van plakkate in George nie. Sy is Woensdag 8 Desember meegedeel dat die plakkate wat reeds op was, moet afkom. "Ek was geskok en het dadelik kontak gemaak met die relevante owerhede."
Teen Vrydag is 40 van die plakkate reeds deur die munisipaliteit verwyder. Sy het toe 'n deposito gaan betaal en het toestemming gekry om dit terug te sit. Dit is aan haar terugbesorg en sy het Dinsdag van die plakkate weer gaan opsit.
Stols het benadruk sy het niks onwettig gedoen nie en het soos elke jaar vroegtydig aansoek gedoen.
Volgens haar is die Kersmark baie gewild. Dis 'n gemeenskapsprojek. Dit is uit die gemeenskap en vir die gemeenskap. "Ons ondersteun liefdadigheidsorganisasies wat gratis uitstalruimte ontvang en geen kommissie betaal nie."
Die mark is soggens van 09:00 tot 16:00 oop tot 22 Desember. Soggens tussen 08:00 en 09:00 is daar 'n spesiale tyd vir bejaardes.
Een van die plakkate wat deur die munisipaliteit verwyder is en aan Gertda Stols terugbesorg is.
Proses vir opsit van plakkate
'n Woordvoerder van die George-munisipaliteit het by navraag gesê die proses is aan Stols verduidelik. Die wit plakker op die agterkant van die plakkate dien as bewys dat die nodige deposito betaal is.
Voorts dat toestemming verleen is om die plakkate te kan aanbring in ooreenstemming met die George-munisipaliteit se munisipale verordeninge en die datum waarop dit afgehaal moet word.
Die Kersmark kan ongelukkig nie anders hanteer word as enige ander sakeonderneming of groep wat nie in ooreenstemming is met die stadsraad se beleid en munisipale verordeninge nie. Amptenare, ongeag hul senioriteit, het ongelukkig nie diskresie om af te wyk van beleid, munisipale verordeninge of tariewe soos goedgekeur deur die stadsraad nie.
Die munisipaliteit het in 'n algemene verklaring gesê die instansie het met kommer kennis geneem van sekere organisasies en individue wat voortgaan om plakkate aan te bring sonder die nodige aansoeke en/of goedkeuring.
Plakkate wat onwettig aangebring word, sal verwyder en vernietig word.
'n Wye verskeidenheid produkte word by die Kersmark aangebied.
'n Uitstalling by die jaarlikse Kersmark.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'