GEORGE NUUS - Die SWD trompoppie- en rasieleiervereniging het Saterdag 16 Mei sy 2026-kompetisieseisoen afgeskop met 'n dag wat gekenmerk is deur hoë energie, sterk deelname en indrukwekkende spangees.
Die openingsbyeenkoms het 'n vol arena gelok, met spanne, afrigters en ondersteuners uit die breër SWD-streek wat die nuwe seisoen amptelik ingelui het.
Van die eerste optredes af was dit duidelik dat, met die skerp choreografie en goed geoefende roetines, die standaard hierdie jaar hoog sou wees.
Die span van St Mary's Primêr in Rosemoor het in die presidentsliga aan die groot groep-vlagitem deelgeneem en 'n welverdiende tweede plek verower.
Nog 'n deelnemer van St Mary's Primêr, Shaqiel de Boer, het ook met indrukwekkende vertonings uitgeblink. Hy het eerste plek in die Solo Pom / Non-prop-afdeling behaal, asook 'n tweeede plek in die Solo Vlagitem.
Shaqiel de Boer van St Mary’s Primêr het eerste plek in die Solo Pom/Non-prop-afdeling behaal, asook ’n tweede plek in die Solo Vlag-item.
Een van die hoogtepunte van die dag was die verwelkoming van twee nuwe spanne tot die SWDMCA-familie, naamlik De Villiers Primêr en Bergsig Primêr. Beide skole het 'n sterk indruk gemaak tydens hul debuutoptredes en is hartlik deur die ander spanne ontvang.
Die meisiesspan van St Mary's Primêr in Rosemoor het in die presidentsliga aan die groot groep-vlagitem deelgeneem en 'n welverdiende tweede plek verower.
Gefokus is Michelle Frazenburg van St Mary's Primêr terwyl sy haar vlaggie met een hand balanseer.
Volgens die hoofbeoordelaar, Ronald Presher, was die standaard van die kompetisie besonder hoog.
"Die uitslae het 'n goeie mengsel tussen die spanne getoon, met 'n standaard wat oor die algemeen baie hoog was," het Presher gesê.
Die kompetisie het ook die groei van trompoppies en rasieleiers in die SWD-streek beklemtoon. Ná 'n suksesvolle 2025-seisoen het plaaslike spanne gewys dat hulle steeds verbeter en die standaard van die sport verhoog.
Organiseerders het hul waardering uitgespreek teenoor atlete, afrigters, beoordelaars, vrywilligers, ouers en ondersteuners vir hul bydrae tot die sukses van die dag.
Kayleigh Raubenheimer van St Mary's Primêr.
Met die suksesvolle afskop van die seisoen sien spanne en ondersteuners reeds uit na die res van die kompetisies wat later vanjaar plaasvind.
Pro Academy se dansers het weer nie teleurgestel nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’