Pendelaars van regoor George voel egter dat dit nie die geval is by die plaaslike taxiverenigings nie nadat hulle Dinsdag-oggend aan hulle eie genade oorgelaat is toe taxidienste gestaak is.
Die drie verenigings in George, Uncedo, die George Huurmotorvereniging en die George Taxivereniging het ‘n optog na die George-munisipaliteit gehou en ‘n memorandum met hul griewe aan die burgemeester, mnr. Bazil Petrus oorhandig.
Hulle eis dat die "teistering" van hul lede stopgesit word nadat die polisie en munisipale en provinsiale verkeer verlede maand padblokkades gehou en ‘n klopjag by die George-taxistaanplek uitgevoer het. Verskeie boetes is uitgereik, lasbriewe is uitgevoer en vyf taxi’s van Themlalethu is geskut.
Hulle eis ook dat die Wet op Administratiewe Beregting van Verkeersmisdrywe (Aarto) geskrap word en dat die moratorium op die uitreiking van permitte gelig word. Verder is hulle ongelukkig oor die implementering van die nuwe openbare vervoersisteem vir George en die verhoging in skutkostes.
Mnr. Isaya Stemela van Uncedo en woord-voerder vir die onderskeie verenigings, het mnr. Petrus versoek om binne 14 dae terugvoering te gee oor hulle griewe.
Openbare vervoersisteem
Mnr. Robin Carlisle, Wes-Kaapse minis-ter van vervoer en openbare werke, het verlede maand toestemming van die George-stadsraad ontvang om voort te gaan met die nuwe openbare vervoersisteem.
Carlisle het gesê die doel van die sisteem is om huidige operateurs te bemagtig en om ‘n veilige, bekostigbare en geskeduleerde vervoerstelsel aan die mense van George te bied.
Die sisteem, wat ‘n eerste is vir die land, sal na verwagting gedeeltelik in die tweede helfte van 2011 ingestel word.
’n Nuwe maatskappy sal gestig word waarin taxi-eienaars en busmaatskappye belang sal hê.
Carlisle het gesê op die oomblik stap meer as 60% van die inwoners werk toe.
Pendelaars betaal minstens R6 tot in die middedorp.
Pendelaars ontevrede
Honderde pendelaars het nie betyds by hul werk opgedaag nie en sommige moes maar omdraai huis toe terwyl ander geryloop het in die hoop op ’n geleentheid saam met ander motoriste.
"Ek is so gatvol vir die taxi drivers wat nie aan ons dink nie. Maak hulle dan nie genoeg geld om hul taxi’s reg te maak nie? En hulle kry fines want hulle gedra hulle soos padvarke. Ek het nie ‘n keuse nie, ‘n kar kan ek nie bekostig nie en ek moet met hulle ry," het ‘n ontstoke vrou gesê.
Nog een het dit beaam en gesê haar werkgewer verstaan nie altyd dat sy laat is omdat die taxi’s staak nie.
"Ek moet dan please explain. Hulle moet ‘n slag aan ons dink en ons belange op die hart dra."
Mnr. Virgil Gericke van die Pacaltsdorp Belange-inisiatief het ook die George He-rald gekontak om sy ongelukkigheid ook die staking te kenne te gee.
Hy meen die aksie deur taxi-operateurs is gewetenloos en hul optrede onverantwoordelik. Wat hom verder ontstel, is die feit dat die publiek nie ingelig is oor die beplande optog of staking nie.
"Hordes inwoners van Pacaltsdorp het langs die pad gestaan en wag. Sekere werkers kan hul werk verloor, ander hulle bonusse want sommige werknemers verstaan nie altyd as die mense laat kom nie," het hy gesê.
‘Pynlik’
Stemela het by navraag gesê dit was vir hulle "pynlik" om te sien hoe die pendelaars loop want dit is nie wat hulle wil hê nie.
"Ons is ook teleurgesteld in hulle omdat ons vir hulle gevra het om ons in die optog te ondersteun," het hy gesê.
Volgens hom het hulle met luidsprekers in die onderskeie woonbuurte rondgery om die optog af te kondig.
Iona Klitzinger, die raadslid vir gemeenskapsveiligheid, het by navraag gesê sy is jammer vir die ongerief wat die pendelaars moes verduur.
Sy het die hoop uitgespreek dat verhoudinge met die operateurs reg verloop.
Taxi’s het Dinsdagmiddag weer die gewone roetes bedien.
Verkeer ontwrig
Die verkeer in Yorkstraat is vir ure ont-wrig met taxi’s wat in die pad van die hoek van Meade- en Yorkstraat tot by die Victoria- en Yorkstraatkruising geparkeer was. Verkeersbeamptes is op verskeie punte geplaas om alternatiewe roetes vir motoriste aan te wys.
Meer as 200 taxi’s was betrokke by die optog.
Honderde protesgangers het voor die George-munisipaliteit byeengekom waar drie plaaslike taxiverenigings ‘n memorandum met griewe aan die burgemeester, mnr. Bazil Petrus, oorhandig het.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA