Hulle dreig nou om na 14 dae in opstand te kom indien daar nie aan hul eise voldoen word nie.
Ongeveer 250 mense, waaronder geestelike- en gemeenskapsleiers het verlede Vrydagoggend van die Pacaltsdorp Laerskool tot by die afrit na Rosedale gestap. Die leier van die PBI, Virgill Gericke het gesê ondersteuners van die PBI, asook van die ander politieke partye kom in opstand teen die feit dat groot tenders aan kontrakteurs van sover as Kaapstad gegee word terwyl plaaslike mense verder in armoede gedompel word.
Onder leiding van Gericke het die optoggangers ook 'n memorandum aan die kontrakteurs, Boshard-konstruksie wat aanbouings by Pacaltsdorp Laerskool doen oorhandig. Hulle eis dat daar binne 14 dae gehoor gegee word aan hul eise om plaaslike arbeid in te span. By die Pacaltsdorp-kliniek is ook 'n memorandum oorhandig waarin die PBI eis dat meer gesondheidsentrums opgerig word vir die inwoners van Pacaltsdorp. Een van die optoggangers het die kliniek binnegaan en geweldadig geraak. Hy is deur die polisie verwyder.
By die eindpunt van die optog is 'n memorandum aan Charles Standers, uitvoerende burgemeester van George, oorhandig. Daar word geëis dat meer investering binne Pacaltsdorp gedoen word en die munisipaliteit moet ophou om sakelui binne die George sentrale besigheidsektor te bevoordeel. Die behuisingskwessie en armoede binne Pacaltsdorp word ook in die memorandum aangespreek.
Standers het onderneem om indringend aandag te skenk aan die eise, maar versoek dat die goeie dade van die regering ook raakgesien word. Hy het die optoggangers bedank vir die feit dat hulle vreedsaam betoog het. "Ek wil alle gemeenskappe bedank vir hul bereidwilligheid ten einde gemeenskapskwellinge en vraagstukke soos misdaad en dienslewering wat die alledaagse lewens van ons mense beïnvloed, na vore te bring.
Standers het onderneem om binne 14 werksdae formeel op die vraagstukke te reageer.

PBI-ondersteuners tydens verlede Vrydag se optog.
ARTIKEL EN FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS