Update
GEORGE NUUS - Die moordverdagte, Rowandro Ruiters (27), wat verlede jaar vir die moord van Johnwin Pato (18) aangekeer is, se verhoor het Maandag 8 Oktober in die George-streekhof begin.
Ruiters word daarvan aangekla dat hy Johnwin op Vrydag 1 Desember naby sy huis in Lotstraat, Rosedale, vermoor het. Hy het onskuldig gepleit op die aanklag teen hom.
Bradley Claassen (19), een van Johnwin se vriende wat die aand van die voorval by hom was, het aan die hof vertel dat hy, Johnwin en nog 'n paar vriende vroeër die middag 'n paar drankies gedrink het waarna hulle na 'n taverne in die omgewing gegaan het om potbal te speel.
Volgens hom het Johnwin in 'n stadium die taverne verlaat omdat hy vars lug wou skep. Claassen het sy vriend gaan soek en hom buite die gebou gevind waar hulle gestaan en gesels het. "Johnwin wou huis toe gaan," het Claassen gesê. Die hof het gehoor dat Johnwin en Claassen kort daarna deur Ruiters gekonfronteer is waarna 'n bakleiery ontstaan het. Ruiters het Johnwin met 'n mes aangerand.
Dié voorval het klaarblyklik agter 'n huis naby die taverne plaasgevind.
Claassen het ook aan die hof gesê Johnwin het 'n steekwond aan die regterkant van sy gesig en een aan sy nek opgedoen. Tydens kruisondervraging wou Ruiters se regsverteenwoordiger, Winston Jansen van Nico Smit Prokureurs, weet hoekom Claassen sê die oorledene was ook aan die regterkant van sy gesig gesteek, want 'n doodsertifikaat wat deur Jansen voorgelê is, wys dat die oorledene slegs 'n steekwond aan sy nek en hand gehad het en nié aan sy gesig nie.
Claassen het nie hierop geantwoord nie. 'n Verdere kwessie was die tydsraamwerk waarin die voorval plaasgevind het. Claassen het in sy getuienis gesê hulle het die taverne omstreeks 21:30 verlaat.
Volgens hom het die voorval tussen 21:30 en 22:00 plaasgevind en die polisie was kort daarna op die toneel. In die polisieverslag, wat deur die verdediging gebring is, staan egter die polisie het om 00:05 die oproep rakende die voorval ontvang en dat die eerste beampte om 00:10 op die toneel was. Volgens die doodsertifikaat is die oorledene om 23:53 dood.
Ná Jansen Claassen ondervra het oor die gebeure wat ná die voorval plaasgevind het, het die hof gehoor Claassen het saam met van sy vriende na die beskuldigde gaan soek. 'n Tweede bakleiery het uitgebreek en Claassen is glo met 'n warm stok in die oog gesteek. Weens 'n gebrek aan tyd is die saak daarna uitgestel. Kruisondervraging sal op Maandag 21 Oktober voortgaan.
Candice Simon verskyn vir die staat en die saak dien voor landdros Marius Fourie.
Lees vorige artikels hier:
- Moordverdagte pleit in Junie
- Verdagte in hof vir jongman se moord
- Verdagtes Kersfees agter tralies
- 3 moorde in 24 uur
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'