GEORGE NUUS - Rondloper vee in Pacaltsdorp is nie 'n seldsame verskynsel nie. Kleinboere is volop in die historiese woongebied en inwoners is lief daarvoor om plaasdiere en perde aan te hou. Die diere verleen aan die area 'n unieke gevoel wat eie is aan die gebied.
Die probleem is egter dat die vee in Pacaltsdorp dikwels sonder 'n veewagter na weiding soek, paaie oorsteek en verkeer tot stilstand dwing.
Onlangs het 'n jong kind met 'n bees heen en weer oor Beachweg geloop en die verkeer moes dood eenvoudig wag tot hy klaar met sy troeteldier gespeel het.
'n Inwoner, wat raadop is oor die situasie, is veral bekommerd oor die veiligheidsrisikowat geskep word wanneer motoriste snags in die donker na hul huise ry.
"My vrou het amper 'n ongeluk gemaak toe sy onlangs op pad huis toe was, in reënweer en in die donker, toe 'n bees voor haar motor in Beachweg ingeloop het," het Martin Reimann gesê.
"Die beeste is ook baie slim, hulle loop rond in die woonbuurt en lig eenvoudig die draadlusse waarmee hekke dikwels toegemaak word, met hul horings op, en loop in. Die skade is nie noodwendig die groente wat geëet word nie, maar die vertrapping van al die gewasse in die proses."
Bywet
Luidens die munisipale bywet mag geen persone beeste, perde of ander wilde diere op privaat eiendom aanhou sonder toestemming van George-munisipaliteit nie.
'n Samewerkingsooreenkoms bestaan tussen die wetstoepassingsafdeling, die dierebeskermingsvereniging, veediefstaleenheid en, op kleiner skaal, die departement van omgewingsgesondheid.
Die munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag gesê alle klagtes word opgevolg: "Die afgelope paar maande is 'n daadwerklike poging aangewend om soggens die gebiede te patrolleer en rondloperdiere so gereeld as moontlik te skut. Verlede naweek (24 Julie) is 12 beeste geskut."
LEES HIER: Nuisances and animals bylaw highlighted
Boetes
Boetes word opgelê deur sowel die wetstoepassingseenheid en die polisie, het Edwards-Klose gesê. "Inligting word geliasseer rondom die betrokke eienaars en in sommige gevalle word die diere aan die dierebeskermingsvereniging oorhandig en aan die slagpale verkoop."
Weiding
Edwards-Klose het gesê die grootste probleem is die weiding wat vee-eienaars benodig, saam met 'n gebrek aan verantwoordelikheid by veewagters wat hul pligte versuim, of diere neem na areas waar hulle in privaat tuine rondloop.
Volgens die veediefstaleenheid van die polisie mag mense hul vee na weivelde lei, mits die diere onder konstante toesig is, die veewagters glimbaadjies dra en rooi vlae het om motoriste te waarsku.
Alle klagtes kan gerig word na George se wetstoepassingseenheid tydens kantoorure by 044 801 6350 of na-ure by 044 801 6300.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'