Update
GEORGE NUUS - In 'n onlangse verklaring deur die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) word inwoners van George teen onwettige donkiehandelaars gewaarsku.
Dit volg nadat twee verdagte mans verlede naweek donkies by 'n plaaslike onderneming (met donkies op hul perseel) wou koop.
Die DBV vermoed dat die mans, in 'n wit minibus met 'n CAW-registrasienommer, onwettig met donkievelle handeldryf.
Volgens die verklaring deur die DBV word die donkies op die gruwelikste maniere vir hul velle doodgemaak.
Die vel word dikwels verwyder terwyl die donkies nog leef en die diere sterf stadig en pynlik.
Soms word hulle bewusteloos geslaan voor die vel afgetrek word, maar baie van die donkies word tydens dié proses weer wakker.
"Dit is onwettig om met donkievelle handel te dryf en net so onwettig om donkies aan hierdie wrede mense te verkoop. Veral as die verkoper weet wat die koper met die diere gaan doen," lui die verklaring.
Indien iemand wat donkies besit, deur die mans genader word, moet hulle dadelik die DBV by 044 878 1990 of na ure by 082 378 7384, skakel.
Talle dierewelsynsorganisasies in Suid-Afrika ontvang gereeld verslae oor donkies wat in landelike gebiede vir hul velle geslag word.
Volgens die Nasionale-dierebeskermingsvereniging (NDBV) word donkies gesteel, vervoer en wreed vir hul velle geslag.
Baie van die diere is bedoel vir die Chinese-velmark.
In 'n onlangse voorval is 70 siek, brandmaer donkies in haglike omstandighede in Bloemfontein gevind.
Die eienaar het eenvoudig erken hy stel glad nie in die diere se welsyn belang nie, slegs om die velle in China te kry.
Lees 'n vorige artikel: Beware of illegal donkey traders
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'