Update
GEORGE NUUS - Johan Stander, 'n lid van die burgemeesterskomitee, het op Maandag 4 September sy derde hofverskyning in die George-landdroshof gemaak, op ‘n aanklag van aanranding.
Dit volg nadat sy kollega Gert Niehaus, ook 'n lid van die burgemeesterskomitee, 'n klag teen Stander by die polisie ingedien het.
Die onmin het ontstaan na 'n onderonsie in Oktober verlede jaar oor 'n parkeerplek voor George-munisipaliteit. Niehaus het sy voertuig geparkeer op 'n plek wat Stander beskou as sy eie. Die raadslede het na bewering slaags geraak, waarna Niehaus 'n klag van aanranding geopen het.
Die saak is einde Julie finaal tot 4 September uitgestel, nadat vertoë aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) om die saak van die rol te skrap, nooit die DOV bereik het nie.
Stander se regsverteenwoordiger, Eckert Brand, het landdros Emma Moloro Maandag versoek om die saak van die rol te skrap, aangesien die dossier steeds weg is. Die versoek is toegestaan en die saak is van die rol geskrap. Brand het van die staanspoor af gesê die saak handel oor 'n onbenulligheid wat nie in die hof hoort nie.
Stander het Maandag gesê hy was in die hof omdat hy in sy onskuld glo.
"Dit is eintlik jammer dat die saak nie kon voortgaan nie," het Stander gesê. "Ek glo daar sal 'n ander platform wees waar ek my saak kan stel."
Niehaus het nie een van die hofsitting bygewoon nie.
Lees 'n vorige artikel: Parkeerplek-saak uitgestel.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'