GEORGE NUUS - “Pacaltsdorp, gestig in die vroeë 1800’s, het ‘n trotse geskiedenis met ‘n unieke kultuur en wonderlike mense. Dié ou dorp se historiese geboue is ‘n ware landmark in die Suid-Kaap,” sê Cobus Meiring van die Garden Route Environmental Forum (GREF).
Pacaltsdorp is uitgestrek oor ‘n groot area met netjiese strate en huise, ‘n toeganklike gemeenskap en kinders wat rugby speel in die strate en perd ry in die veld. Mense in die hegte gemeenskap kuier oor en weer.
Een ding wat die inwoners van Pacaltsdorp en die George-munisipaliteit egter bitter ongelukkig maak, is ‘n merkbare toename in onwettige rommelstrooiing met slegte nagevolge.
Male sonder tal moet die munsipaliteit ingryp om groot areas skoon te maak, net om te vind dat dieselfde areas weer met vullis bestrooi is.
Nie net is onwettige rommelstrooiing onooglik nie, maar dit is ‘n broeiplek vir siektes en lok rondloperhonde wat die saak vererger.
In baie gevalle beland die afval in die stormwaterstelsels wat dan verstop en teen groot onkoste vir die belastingbetaler herstel moet word.
Meiring het onlangs besoek afgelê by ‘n inwoner van Pacaltsdorp wat raadop is met die rommel langs haar huis. Maria (Raai) London van Norfolkstraat het aan hom vertel dat mense op groot skaal op die oop stuk grond reg langs haar woning rommel kom aflaai. Haar versoeke om dit nie te doen nie, word eenvoudig geignoreer, en die munisiplaiteit moet dit telkens kom opruim.
Ten einde Pacaltsdorp skoon te hou, vra George-munisipaliteit dat mense wat naby plekke woon waar rommel gestort word, die nommerplate van die skuldiges se voertuie afneem en verkla by die Pacaltsdorp-polisie of by hulle plaaslike raadslede en aktiviste.
“Daar moet opgetree word teen oortreders wat die omgewing besoedel en die inwoners se regte so minag,” pleit Meiring. Mevrou Maria London van Norfolkstraat in Pacaltsdorp is raadop oor morsjorse.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’