GEORGE NUUS - Die George Erfenistrust gaan help om 'n erfenisinventaris vir Pacaltsdorp op te stel. Dit het aan die lig gekom tydens die organisasie se algemene jaarvergadering wat verlede Donderdag by die George-museum gehou is. In die huidige George Erfenisinventaris is nie voorsiening gemaak vir Pacaltsdorp nie.
Probleme met die huidige inventaris kom al 'n lang pad. 'n Paar jaar gelede is dit aanvanklik verwerp, maar later met streng voorwaardes goedgekeur.
Tydens 'n inligtingsessie van die George Erfenistrust op 21 Februarie vanjaar is kwaai kritiek uitgespreek oor die huidige inventaris. So 'n inventaris moet ingevolge die Erfeniswet van 1999 tot stand kom en die plaaslike owerheid is daarvoor verantwoordelik.
Dit moet inligting bevat van alle strukture wat 60 jaar en ouer is. Voordat enige strukture verander of aangepas kan word, moet die Wes-Kaapse Erfenisraad eers toestemming aan 'n munisipaliteit gee. Die inventaris word as die basis vir ingeligte besluite beskou.
Tydens die inligtingsessie in Februarie het 'n verteenwoordiger van die munisipaliteit in antwoord op kritiek gesê dit is onwaarskynlik dat fondse in die nabye toekoms vir die regstelling van die inventaris beskikbaar gaan wees. Daar is beperkte fondse. Marlize de Bruyn, waarnemende voorsitter van die George Erfenistrust, het na afloop van Donderdag se vergadering aan die George Herald gesê die George-munisipaliteit het 'n inventaris laat opstel, maar dit voldoen nie aan al die vereistes nie.
Een van die gebiede, Pacaltsdorp, is nie deel van die inventaris nie. Dit was nog nooit gewees nie en is 'n belangrike deel.
Die redes waarom dit nie gebeur het nie, is nie bekend nie. Dit is moontlik dat die destydse konsultant nie daaraan gedink het nie. "Dit is 'n leemte wat ons geïdentifiseer het en ons wil dit graag aanspreek."
Die George Erfenistrust wil seker maak dat die George munisipale gebied het 'n geldige inventaris wat voldoen aan al die wetlike vereistes soos bepaal in die wet op Nasionale Erfenishulpbronne.
Volgens haar moet iewers begin word. 'n Erfeniskonsultant is reeds aangestel wat die taak sal verrig. In die stadium is dit nog nie duidelik wanneer dit voltooi sal wees nie. 'n Openbare deelname proses sal volg en daarna behoort meer sekerheid te wees wanneer dit voltooi sal wees. Daar sal waarskynlik ten minste een of meer openbare vergaderings wees. Mense sal ook geleentheid kry om skriftelike insette te kan lewer. Die munisipaliteit sal ook betrek word. Dit is immers in hulle gebied en hulle is die owerheid.
Die George Erfenistrust se algemene jaarvergadering verlede Donderdag by die George-museum. Foto: Eugene Gunning
Die Wes-Kaapse Erfenisraad keur dit dan goed of af. As dit goedgekeur word is, is dit wetlik van toepassing op die gebied. Almal wat betrokke is, insluitende die munisipaliteit, moet dan daaraan voldoen.
Die kostes vir die projek word deels uit eie geledere gedra en daar gaan moontlik nog vir donasies gevra word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'