Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Skreeuende bande en 'n paar harde slae het 'n paartjie van Palgravestraat vanoggend in die vroeë oggendure uit hul slaap geruk en groot laat skrik.
'n Bakkie wat buite beheer geraak het, het om 01:00 deur hul tuin se Clear View-heining gebars en daarna deur die betonpaneelmuur tussen hulle en hul buurman geploeg.
Die voertuig het 'n paar meter verder in die buurman se tuin in op die grasperk tot stilstand gekom.
Volgens Kenneth Harris, eienaar van die huis, was dit 'n groot skok. "Dit het geklink asof die voertuig in ons sitkamer ingebars het. Hy het die huis met so 2 meter gemis. Gelukkig het ek my boot en bakkie vroeër geskuif. Hy het my boot met 1 meter gemis. Ek stop baie keer met my bakkie teen die betonheining en ek is bly hy het nie vanoggend daar gestaan nie."
Volgens Harris het die polisie die bestuurder gearresteer.
'n Navraag is in dié verband aan die polisie gestuur.
VIDEO'S VERSKAF:
Die skade aan die heining.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’