Gallery
GEORGE NUUS - Die polisie het hul optrede in dorpe in die Suid-Kaap sedert die algehele inperking drie weke gelede begin het, verskerp.
Met die hulp van addisionele lede het die polisie hul operasies oor die afgelope langnaweek voortgesit en talle inwoners van George, wat die inperking geminag het, beboet en in hegtenis geneem.
George Herald het verlede week en vroeër die week die polisie op verskeie plekke raakgeloop waar hulle besig was met optredes. In sommige areas het inwoners, veral kinders, steeds doelloos in groepies rondgeloop en is hulle gewaarsku.
Verskeie boetes is uitgereik en arrestasies is uitgevoer. Die boetes, wat tussen R1 500 en R5 000 beloop, is vasgestel deur die George-landdroshof.
Op een van die boetes, wat die koerant onder oë gehad het, word die persoon 'n sekere tydperk gegee waarbinne hy die boete kan betaal, of 'n hofdatum om sy saak in die hof te stel. Volgens inligting wat die koerant ontvang het, sal 'n lasbrief uitgereik word as die oortreder versuim om op die betrokke datum in die hof te verskyn.
George Herald het verlede week en vroeër die week die polisie op verskeie plekke raakgeloop waar hulle besig was met optredes.
Daar was ook geïsoleerde voorvalle waar inwoners by wonings gevind is, waar hulle nie moes wees nie.
'n Plaaslike besigheid is ook R5 000 beboet omdat dit nie die maatreëls van die inperking nagekom het nie.
By 'n huis in Pacaltsdorp, op Goeie Vrydag, is vier mans, wat aan voertuie in 'n erf gewerk het, beboet. Nie een van die mans woon by die woning waar hulle gewerk het nie.
'n Motoris is ook beboet nadat hy in Beachweg, Pacaltsdorp afgetrek is met 'n motor vol passasiers. Privaat voertuie mag nie meer as 60% van die gelisensieerde kapasiteit dra nie. Alle veiligheids- en higiëne-maatreëls moet gevolg word om die verspreiding van Covid-19 te stop.
Daar was ook steeds gevalle waar inwoners na byna drie weke nog nie die reëls van die algehele inperking en wat dit behels verstaan het nie. Hier het polisielede die inwoners ingelig en gewaarsku om by hulle huise te bly.
Maar die uitdagings bly groot, want daar was steeds te veel voorvalle waartydens inwoners die polisie uitgetart het en moedswillig was deur hulle eenvoudig nie aan die maatreëls van die inperking te steur nie.
Fotogalery: Inperking oortreders op George
George Herald het die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, genader vir kommentaar oor hoeveel boetes uitgereik en arrestasies gemaak is. Die navraag is na die nasionale polisiewoordvoerder, brig. Vishnu Naidoo verwys.
Teen druktyd is geen kommentaar ontvang nie.
Generaal-majoor Oswald Reddy (sittende) saam met kapt. Claassen van die K9 Attakwa-honde-eenheid (links) en kapt. Bouers van die Oudtshoorn-speurdiens by 'n padblokkade op die N9.
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'