GEORGE NUUS - Die Legacy-sentrum en nie-winsgewende organisasie, Binah, se tweede Big Walk word op Sondag 15 April aangebied. Die 4,8 km-pretstap in die Tuinroete Botaniese Tuin word aangebied deur Binah, om bewusmaking te skep vir families met kinders op die outismespektrum.
Die Legacy-sentrum, wat 1 Augustus 2016 in George geopen het, is deur Mariza van Deventer en haar man, Johan, geskep vir die versorging en onderrig van hul seun, Migael (toe 10) en ander kinders met spesiale onderrigbehoeftes.
Migael, wat aan ‘n seldsame metaboliese defek Phenylketonuria (PKU) ly, is ook op die outismespektrum.
In daardie stadium is Migael en een ander 10-jarige seun op ‘n een-tot-een-basis by die skool onderrig, maar intussen het die getalle aangegroei tot twaalf leerders van 4 tot 11 jaar oud, wat nie in hoofstroom-onderrig situasies kan funksioneer nie.
Daar is tans vyf voltydse onderwysers, ‘n biokinetikus wat individuele oefenprogramme vir elke kind opstel, en ‘n musiekterapeut.
Wat is outisme en hoe manifesteer dit
“Dit is nog nie heeltemal duidelik hoe dit gebeur of ontstaan nie,” sê Mariza. “Outisme beïnvloed inligtingsprosessering in die brein deur die manier te verander waarop senuselle en senuselbrûe verbind en georganiseer word.
"Dit is een van drie steurings wat volgens die nuutste uitgawe van die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings (DSM) onder die outismespektrum val; die ander twee is Aspergersindroom en ontwykende-ontwikkelingsteuring.”
Outisme is ’n neuro-biologiese ontwikkelingsteuring wat deur die volgende eienskappe gekenmerk kan word, maar nie noodwendig nie:
- Beperkte sosiale interaksie
- Min tot geen oogkontak
- Beperkte verbale en nie-verbale kommunikasie
- Herhalende en stereotiepe gedrag
- Oorstimulering deur baie mense en geraas, wat lei tot ‘n “meltdown” wat lyk soos ‘n tantrum, maar wat nie deur die outistiese kind verhelp kan word nie. Sommige kinders sal klap, skree en selfs hulself beseer deur byvoorbeeld kop te kap. Dit help om ‘n kind op ‘n spesifieke manier styf vas te hou totdat hy kalmeer.
Uitdagings
Volgens Mariza is dit ‘n groot uitdaging om met ‘n outistiese kind te leef en te werk. “Die stelling dat wanneer jy een kind met outisme ontmoet, het jy een kind met outisme ontmoet, is regtig waar. Dit is waarskynlik wat outisme so 'n uitdagende ontwikkelingsteuring maak.”
Uit ondervinding weet sy dat enige “onsigbare gestremdheid” dit moeilik maak vir die wat daarmee saamleef.
“Die samelewing verstaan net nie. Ek en Johan het onlangs Raaiselkind gaan kyk en ons was albei doodstil daarna. Dit was baie emosioneel om soveel van jou lewe op 'n groot skerm te sien.
"Wat daardie gesin beleef het, was wel die ekstreem. Soos Johan sê daar was niks mooi aan die film nie, maar dit is alles waar.
“Ek kan vir jou sê wat ek mis: Om saam met Johan kerk toe te gaan. Dit klink so eenvoudig, maar die baie mense en harde musiek is sensories net te veel vir Migael. Die aspek is skitterend in Raaiselkind uitgebeeld: die kerk wat gesien het hierdie ma breek, maar niks gedoen het om te help nie. En dis juis waar mens dink jy hulp moet kry.”
Afsondering
Een van die grootste uitdagings is dat jy afgesonder raak. “Ouers van kinders met spesiale behoeftes word so maklik geïsoleer omdat die samelewing nie verstaan nie. Jy bly in jou veilige ‘bubble’ by die huis omdat jy daar in beheer is.
“Dit is net te onvoorspelbaar om jou kind na byvoorbeeld 'n winkelsentrum te neem want dit is vir hom sensories oorweldigend. Jy kan nie voorspel of jou kind dit op ‘n gegewe dag sal kan hanteer nie. Dalk gaan dit wonderlik, of dalk kry hy 'n ‘meltdown’ en jou dag is gekanselleer.”
Ondersteuningsraamwerk
Volgens Mariza is ‘n ondersteuningsraamwerk baie belangrik, “maar dit is moeilik om aanmekaar te sit. Wie jou ook al ondersteun moet weet hoe om jou kind te hanteer.”
Onderwys is nog 'n ander groot uitdaging. “Dis onnodig om te verduidelik hoe ons onderwys in die algemeen lyk, wat nog te sê vir kinders met spesiale behoeftes. Dit noop ouers om hulle kinders na sentrums soos ons s'n te stuur en nie almal kan dit bekostig nie. Die skoolgeld is duur want ons moet meer personeel aanstel omdat een-tot-een onderrig noodsaaklik is.”
Wat gebeur by Legacy -sentrum
Volgens Mariza doen die kinders bykomend tot hul individuele leerplanne ook die Gemini-program. Die leerprogram is gebaseer op “discrete video modeling”, wat ‘n enkele konsep met klank en beeld toelig ten einde konsepte te assosieer.
Een maal per week ry die kinders perd, en twee maal per week swem hulle. Hulle kry ook twee maal per week musiekterapie in groepies van twee of drie, of selfs individueel.
“Laasgenoemde was die beste toevoeging ooit tot ons kurrikulum!”
Hulle werskaf ook in ‘n groentetuin. “Die groentetuin verskaf vir hulle soveel plesier om die groente te plant, te pluk en te eet!” Hulle word geleer om koekies te bak, pizza en pannekoek te maak. “Dis groot bederf en hulle geniet elke oomblik daarvan. Deur werk, speel en lewensvaardighede word hul persoonlikhede ontwikkel.”
Van die positiewe uitkomste is dat die ouers mekaar leer ken en ondersteun. Die kinders is ook baie geheg aan mekaar. “Dis lekker om te sien hoe die kinders meer selfstandig raak.”
Die uiteindelike doel met die onderrig is om die kinders kognitief te stimuleer en hulle lewensvaardighede te leer sodat hulle selfstandig in die samelewing kan funksioneer. Migael is geleer dat hy Saterdae by Johan se trokwassery mag help en as belonging Spur toe te gaan.
Migael se 'Talking Tablet'
Mariza en Johan het besluit om vir Migael alternatiewe kommunikasie te leer omdat hy grotendeels nie-verbaal is. “Ons het vir hom 'n tablet gekoop waarop sy spraakterapeut 'n toepassing spesifiek vir hom ontwikkel het.”
Die toepassing bestaan uit verskeie ikone op die skerm, en as hy daarop druk, sê ‘n seunstem in Afrikaans wat die ikoon verteenwoordig. “Dit sluit in goed waarvoor hy lief is, vrae wat hy wil vra, en wat hy wil eet. Die toepassing sal voortdurend ontwikkel word, maar vir nou leer hy dat dit sy ‘stem’ is. Hy het die Talking Tablet op 22 Maart ontvang en hy geniet dit om vir alles wat lekker is om te eet, te vra.
Sê hallo en waai
Soos alle ouers van kinders met gestremdhede is dit moeilik om die publiek se reaksie te hanteer. “Dis maar die gewone gevalle van mense wat dink jou kind gooi 'n vloermoer, maar inderwaarheid het hy 'n ‘meltdown’ as gevolg van sensoriese oorlading,” verduidelik Mariza.
“Kinders wat staar is vir my sleg. Dit beteken dat hulle ouers hulle nie leer dat daar kinders is wat ‘anders’ is nie. Ek het al hoeveel keer gesien dat die ouers skaam kry en hul kinders aansê om ‘nie te kyk nie’. Die korrekte optrede is om hallo te sê en te waai.”
Wanneer hulle Migael saamneem op ‘n vlug of na ‘n vreemde plek gaan, dra hy ‘n T-hemp waarop geskryf staan: “Autism is my superpower” en “I'm autistic. Smile and say Hi!” “Dit help regtig, want jy kan sien hoe mense die slagspreuk lees, inneem en verstaan.”
Die Legacy-sentrum is reg deur die jaar oop en sluit net vir die Desembervakansie.
Die Big Walk begin om16:00 by die hoofingang in Caledonstraat. Inskrywingsfooi beloop R50 vir volwassenes en R20 vir kinders onder 12.
Kontak Mariza van Deventer by 083 270 6382 of binahnpo@gmail.com vir meer inligting. Besoek ook Binah en Legacy Centre op Facebook.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'