GEORGE NUUS - Die plaaslike komediant Moses Williams se Ouma Sarie-televisiereeks, wat sedert 9 Junie op e.tv verskyn, het tans die meeste kykergetalle vir die genre Afrikaanse komedie oor alle kanale.
"Na die eerste vyf episodes het ons die 'most viewed sitcom' geraak," het Williams vertel.
Die televisiekanaal se mense is gereeld in kontak met Ouma Sarie se vervaardiger, Marius Wannenburg van Garden Route Media.
"Hulle stuur weekliks die afgelope naweek se kykergetalle deur," het Moses gesê.
Sondagaande om 19:00 is Ouma Sarie steeds op die eExtra-kanaal, maar omdat die reeks so ontsettend goed doen, gaan dit nou ook Saterdagaande om 18:30 op e.tv se hoofkanaal uitgesaai word.
"Hulle wil so gou as moontlik begin om Engelse onderskrifte by te sit," het Moses gesê.
Ofskoon die eerste reeks steeds uitgesaai word, is die tweede en derde seisoen reeds klaar geskiet.
Volgens Moses is daar nog een ding waarmee hy die heeltyd sukkel: "Om heeltemal uiting te gee aan my emosies rondom die sukses wat met my ouma se legacy gepaard gaan. Ek het hierdie brand gebou op haar naam, en dis verskriklik oorweldigend. Ek het geweet ek gaan my plekkie in die son kry, maar nie verwag dit gaan teen dié spoed gebeur nie. Ek is gewoond aan jare lank hard werk." Benewens die televisiereeks is Moses voortdurend besig om toere te reel vir Ouma Sarie. "My foon ken geen rus nie," het hy vertel.
Moses is vandag, Donderdag 27 Julie, op pad na die Noord-Kaap vir 'n minitoer met Ouma Sarie, tot Sondag. Saterdag gee hy twee optredes, rug aan rug. "As ek nie op die kassie is nie, gee ek live shows, werk aan my sosiale media platforms, maak advertensievideo's en probeer tyd kry om pa te wees vir my twee klein terroriste, Emjay (4) en Khilermo (6). Dan het ek ook tyd nodig saam met my lewensmaat, Simone Cloete."
Ons gesels oor hul toekomsplanne en wanneer Moses dan nou gaan trou. Hy lag: "Ek gaan nog 'n klompie jokes moet maak, want op die stadium het ek nog net geld vir 'n suit. Sy moet nog 'n mooi rok kry. Maar ja, ons het planne!"
Die komediant Moses Williams, as Ouma Sarie.
Tuisdorp
Moses gesels oor sy optredes in George, wat maar yl gesaai is. Sowat 'n maand gelede het hy 'n vertoning by Pacaltsdorp Primêr op versoek gedoen, en 'n gehoor van byna 700 mense getrek.
"Die show was 'n verskriklike groot sukses," het hy gesê. "Dit het my klein bietjie meer hoop gegee vir George. Ek is die enigste voltydse komediant hier, maar voorheen het Ouma Sarie nie baie goed gedoen in my tuisdorp nie."
Op 29 September (19:30) sal plaaslike liefhebbers van Ouma Sarie die geleentheid kry om haar, saam met die hele televisiespan, in die George-burgersentrum te sien.
Moses is besig om te skryf aan 'n nuwe verhoogstuk waarin al die karakters optree. Die openingsnaweek is in George, waarna die toneelstuk 'n draai in Beaufort-Wes
(30 September) en Graaff Reinet (1 Oktober) gaan maak.
"Ouma Sarie bestaan al vir drie jaar, maar dit gaan die eerste keer wees wat ek in my home town afskop met 'n toer," het Moses gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’