GEORGE NUUS - "Dis 'n stuk geskiedenis wat net vernietig is." Só het Sydney Opperman, 'n voormalige parlementslid, Maandag die brandskade aan die parlementêre geboue in Kaapstad beskryf.
Hy het kommentaar gelewer nadat 'n brand Sondag 2 Januarie in die parlement uitgebreek het en skade van miljoene rand aangerig het. Na verwagting sal dit etlike jare neem om die geboue te herstel.
In die stadium is dit nog nie duidelik wat alles in die brand vernietig is nie. Die geboue is van die mees geskiedkundig in Suid-Afrika en van die land se bekendse politieke leiers het al van die podium in die Nasionale Vergadering gepraat. Onder hulle PW Botha, FW de Klerk, Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa.
Die 79-jarige Opperman, 'n inwoner van George, het in die verlede 10 jaar as LP gedien. Hy ken die geboue goed want dit was vir 'n groot deel van die jaar deel van sy daaglikse werksplek. Voordat hy parlement toe is, was Opperman die eerste demokratiese verkose burgemeester van George.
Opperman het gesê sy tyd in die parlement was 'n wonderlike ervaring en iets waaroor hy as jongman van gedroom het.
"Dit (die brand en gepaardgaande) is laakbare verwaarlosing van verantwoordelikhede wat ons behoort te hê as verteenwoordigers teenoor die belastingbetalers van die land.
"Ek kry die indruk daar is 'n non-chalante houding by die persone wat die verantwoordelikheid het om behoorlik om te sien na die eiendom en die belastingbetalers se belange.
"Ek was absoluut geskok toe ek die tonele op televisie gesien het. Waar was die veiligheidsmense? Ek weet nie of dit vervang kan word nie. Natuurlik sal dit nooit weer dieselfde wees nie. Dit wat vernietig is, is onvervangbaar."
Dr. Natie de Swardt, bekende historikus van George, het gesê dis in die stadium nie duidelik wat alles beskadig is nie.
Dit wat skynbaar vernietig is, is onvervangbaar. Dit sluit in die historiese geboue, kunswerke, dokumentasie en artifakte.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'