GEORGE NUUS - As die Kwaggas iets doen, dan doen hulle dit behoorlik. Dit was duidelik verlede Woensdag, 9 Augustus, toe Hoërskool Outeniqua se Goue Oues-ontbyt as deel van die Kwagga-eeufees gehou is.
Die geleentheid is op die skoolterrein by die Kwagga Cuisine gehou. Dit is deur meer as 120 gaste, waaronder 80 oudleerlinge wat tussen 1950 en 1970 in matriek was, bygewoon.
Onder hulle was oudleerlinge wat meer as 70 jaar gelede matriek geskryf het.
Koos Schieke en Doreen Botha (Muller) wat in 1951 in matriek was en André Botha wat in 1950 matriek geskryf het was teenwoordig. As die gaste se ouderdomme bymekaar getel word is hulle by die 9 000 jaar oud.
Ere-toekennings is gemaak aan Buks Nel (1958) vir sy internasionale bydrae tot die kweek van 'n nuwe appelvariëteit en aan Trevor Robertson as deel van RSA Antarktika-span van 1964.
Johan Botha, wat in 1959 matriek geskryf het, het Dinsdag 15 Augustus gesê daar is heerlik gekuier. Daar is oor ou stories gesels soos onderwysers en hulle byname. Een van die staaltjies wat gedeel is was van ene mnr. Van der Merwe wat so hard geskreeu/gepraat het in die klas. Hy is toe Broadcast genoem na aanleiding van die destydse SABC.
Volgens Botha was die geleentheid vir die oud-Kwaggas 'n besondere hoogtepunt.
Van die mense wat die geleentheid bygewoon het was dit eens dat dit baie aangenaam was en het hul dank teenoor die organiseerders uitgespreek.
Esbra de Swardt 1955, Bevan Robertson en Buks Nel 1958, en Athur Nel 1963.
Bevan Robertson wat in 1959 in matriek was, Dawid Minnie in 1957 en Lautie de Swardt in 1959.
Die groep oud-Kwaggas wat die geleentheid bygewoon het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’