Volgens 'n inwoner, het 'n maatskaplike werker in George, onlangs verhuis en het hierdie vertroulike dokumente in 'n oop blik op die sypaadjie agtergelaat.
"'n Sterk wind het die dokumente uit die blik en oral oor Pacaltsdorp gewaai," het 'n inwoner vertel. "Die verskriklike ding is dat hierdie maatskaplike werker in die howe werk en van die dokumente bevat vertroulike inligting oor verkragtings en ander gruwelike dinge wat ons kinders moes verduur," het die woedende inwoner gesê.
Verskeie swartsakke vol vertroulike dokumente is deur die inwoners ingesamel, waarvan die meeste verbrand is. "Sekerlik is dit nie reg dat hierdie dokumente rondlê waar hulle deur almal gelees kan word. Die maatskaplike werker het 'n verpligting om hierdie goed óf te verbrand of stukkend te skeur wanneer sy hulle nie meer nodig het nie!" vra 'n ander inwoner.
Na aanleiding van verskeie navrae, het Melany Kühn, woordvoerder vir die minister van maatskaplike ontwikkeling, geantwoord: "'n Ondersoek in die saak is onmiddellik van stapel gestuur en ons wag nog op 'n geskrewe verslag van die betrokke maatskaplike wer-ker."
Kühn het verder gesê dat daar baie duidelike riglyne in terme van die bewaring van rekords is sowel as hoe en waar dokumente gehou moet word.
"Die departement neem dit baie ernstig op en hangende die uitslag van die ondersoek sal die nodige stappe oorweeg word." Kühn wou nie sê wat hierdie stappe behels nie.
Die George Herald onderneem om die lesers op hoogte van enige verwikkelinge in die saak te hou.

Jason Lombard wys waar die vertroulike dokumente oral gelê het. Inlas: Een van die talle swart-sakke wat vertroulike dokumente bevat. Foto: Fran Kirsten
ARTIKEL: FRAN KIRSTEN, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'