Die huldeblyke, diens en begrafnis is van so vroeg as 08:00 lewendig vanaf Qunu in die Oos-Kaap uitgesaai. Behalwe vir plaaslike politieke leiers wat onder die roubeklaers was, het dr. Ivan Meyer, minister van sport en kultuur in die Wes-Kaap, ook die verrigtinge in Rosemoor, George bygewoon. Meyer het deurentyd op aandag gestaan om eer te betoon aan die ontslape voormalige staatshoof en vryheidsvegter.
Tot en met ongeveer 11:00 het 'n rustige somber atmosfeer geheers. Daarna is die klank van die uitsending afgeskakel om met die George-munisipaliteit se program voort te gaan.
Slegs die beeld van die lewendige uitsending sou voortgaan. Die grootste gedeelte van die bykans 800 mense het egter oproerig geraak. Van hulle het selfs gedreig om die verhoog af te breek. Die polisie, munisipale wetstoepassers en sekerheidsbeamptes moes ingryp om die orde te herstel.
Die munisipale program, waar dr. Meyer, George en Eden se uitvoerende burgemeesters, Wessie van der Westhuizen en Charles Standers, asook George se onderburgemeester, Daniël Maritz, gassprekers sou wees, is toe gestaak en die klank van die Qunu-uitsending is weer aangeskakel.
Die oproerige roubeklaers het toe weer hul sitplekke ingeneem, maar direk na die uitsending opgestaan en die stadion verlaat. Met minder as 100 mense wat agtergebly het is slegs 'n kranslegging deur die politieke leiers gedoen en geen toesprake gemaak nie.
'n Groot deel van die roubeklaers het oproerig geraak toe die klank van die Qunu-uitsending afgeskakel is om met die munisipale program voort te gaan. Foto: Debra Sauer
By 'n groot banier van wyle oudpresident, Nelson Mandela, staan van links dr. Ivan Meyer (Wes-Kaapse minister van sport en kultuur), Charles Standers (George-burgemeester), Wessie van der Westhuizen (Eden-burgemeester) en Daniël Maritz (George-onderburgemeester). Foto's: Christo Vermaak
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'