Update
GEORGE NUUS - Hy sal altyd onthou word as die mooi kind met die skaam glimlag, maar vir nou is dit tyd om klein Juwayne Dominigo (9) te groet.
Juwayne word eerskomende Sondag 28 Mei by die AGS-kerk in Pacaltsdorp ter ruste gelê.
'n Huisdiens word vroeër die oggend, omstreeks 10:00, by die seun se ouma se huis in Klokkieblomstraat in New Dawnpark gehou, waarna die kerkdiens om 11:30 sal volg.
Tragiese gebeure
Sy tragiese dood kort voor Moedersdag vanjaar, het nie net skokgolwe deur die gemeenskap van Pacaltsdorp gestuur nie, maar daar is nasionaal oor die jong seun se moord, glo aan die hand van sy ma en haar kêrel, gerapporteer.
Chanelle Domingo (31) en Ray Morgan Cronjé (32), is op Saterdag 13 Mei in hegtenis geneem ná Juwayne glo met 'n sambok en 'n staalpyp doodgeslaan is. Hy is na bewering ook verskeie kere hard neergegooi.
Die polisie het die twee in hegtenis geneem nadat 'n buurman hulle na die toneel in Jakarandastraat in Pacaltsdorp uitgeroep het.
Juwayne was reeds in 'n ambulans toe die polisie op die toneel aankom. Hy het veelvuldige kneusplekke oor sy lyf, kop en bene opgedoen en is later deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Die verdagtes is later op aanklag van moord in hegtenis geneem en verskyn weer op 9 Junie vir 'n formele borgtogaansoek. Die gemeenskap, met die ondersteuning van die plaaslike GPF het te kenne gegee dat hulle 'n petisie en 'n plakkaatbetoging sal hou teen die verdagtes se vrylating op borgtog.
Vorige artikel: Kindermoord: Ma en haar kêrel vas
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’