Lesley Wellington (69) was onderweg om middagete te geniet, toe sy deur ‘n wit Polo Volkswagen van die Wes-Kaapse Regering op ‘n eiland in Courtenaystraat raakgery is. Die bestuurder van die Polo het die parkeerplek aan die agterkant van die sentrum verlaat en was besig om regs te draai in Courtenaystraat toe die ongeluk plaasgevind het. Volgens die padreëls is dit onwettig om daar regs te draai.
Volgens ‘n ooggetuie, Rozanne Olivier, het sy gehoor hoe die vrou ‘n kreet gee. “Die bestuurder het dadelik uitgeklim en die tannie gehelp om op die enjinkap van die motor te sit. Die tannie het iemand gebel en baie gehuil. Sy was duidelik geskok,” het sy gesê.
Wellington se dogter, Louise Leggatt, het aan die George Herald gesê dat hulle nie ‘n klag wil lê nie. Die man het diep berou getoon en was baie hulpvaardig,” het Leggat gesê. “Dit was duidelik net ‘n ongeluk.”