‘n Grusame toneel het nooddienswerkers begroet aangesien die bus op sy regterkant geval het en oor die pad geskuif het. Die bus het bo-oor van die oorledenes geskuur en liggaamsdele van passasiers afgeruk.
‘n Ambulans van die Metro-nooddienste het op die ongeluk afgekom en kon dit onmiddellik aanmeld en ook dadelik begin met noodbehandeling. Die ambulans was volgens inligting op pad teug vanaf George na Oudtshoorn nadat ‘n pasiënt na George vervoer is.
Die busbestuurder het aan die onderpunt van die gevaarlike draai wat as Perdeskoendraai bekendstaan, sowat 13 km buite Oudtshoorn op die N12 beheer oor die bus verloor. Die bus het na regs begin kantel en op sy regtersy beland en oor die padoppervlak geskuif.
Nooddienswerkers moes in die donker onderskei tussen beseerdes en oorledenes en het bevestig dat altesaam nege persone op die toneel dood is. Van die liggame kon eers verwyder word nadat die bus deur insleepvoertuie opgelig is. Met die aankoms van nooddienswerkers het van die beseerde passasiers reeds uit die bus geklim. Ongeveer ses beseerdes moes binne die bus behandel word en van die passasiers was ook vasgekeer. Tussen 14 en 18 noodvoertuie was op die toneel en verskeie ambulanse vanaf Oudtshoorn, Calitzdorp, Mosselbaai, George en Knysna het beseerdes na hospitale op George en Oudtshoorn vervoer.
In ‘n mediaverklaring van adv. Roelien van der Walt van Intercape was die laaste kontak met die bus om 01:20 kort nadat dit George verlaat het. Sy sê dat die ongeluk om 01:50 plaasgevind het. Volgens haar was daar 52 persone op die bus wat die bestuurder en twee bemanningslede ingesluit het. Volgens haar is tien passasiers dood terwyl die polisie se syfer elf is.
Volgens Intercape se rekords het die bus op 7 Februarie 2014 die vereiste padwaardigheidstoets geslaag en ‘n remtoets is ook op 5 Mei uitgevoer. Van der Walt het gesê dat alle naasbestaandes van die oorledenes in kennis gestel is en dat Intercape hulp verleen om betrokkenes se onmiddellike behoeftes aan te spreek. Sy het ook gesê dat Intercape volle samewerking aan die owerhede gee met die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk.
Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant (susterkoerant van die George Herald) op die toneel was lede van die forensiese afdeling besig met die afvoer van die laaste vyf liggame. Kapt. Malcolm Poje, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het op die toneel bevestig dat daar reeds met nadoodse ondersoeke begin is op die eerste vier liggame wat na Oudtshoorn vervoer is. Poje het ook bevestig dat ‘n saak van strafbare manslag ondersoek word. In ‘n verklaring wordgenoem dat elf passasiers dood is. Volgens die polisie is die bestuurder gearresteer en verskyn hy vandag in die hof op elf klagtes van strafbare manslag.
Teen die Oudtshoorn Courant se saktyd gister, is geen inligting ontvang rakende die toestand van beseerdes wat in die hospitale opgeneem is nie.
LEES 'N VORIGE ARTIKEL
Die grusame toneel waar 11 mense gisteroggend in 'n busongeluk dood is. Foto: Hannes Visser
Vyf liggame, bedek met wit, op die toneel waar nege mense gesterf het. Nog twee is in die hospitaal oorlede. Foto: Hannes Visser
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'