Anne Henn, wat aan die stuur van die projek staan, sê dr. Tienie van Staden, 'n geestelike omroeper, het die idee reeds in 2012 aan die EDENfm-radiostasie voorgelê. "Hy het die behoefte vir so 'n sentrum raakgesien en die radiostasie genader. Dit is hoe die sentrum uiteindelik sy beslag gekry het. Ons bedien die radiostasie se hele opvangsgebied," sê Anne.
EDENfm se bestuurder, Morné Pietersen, sê die sentrum voorsien in 'n baie groot behoefte onder hulle luisteraars en dit is vir hulle 'n voorreg om met so 'n diens geassosieer te wees.
Anne verduidelik dat wanneer iemand inbel, die gebedstryder eers hoor wat die persoon se behoefte is en dan vir hulle bid. "Waar nodig, sal ons mense verwys na ander diensorganisasies. Die persoon se gebedsversoek word ook geliasseer sodat opvolggebed gedoen kan word.
"Die sentrum sal graag wil sien dat mense op 'n langtermynbasis by 'n gemeenskap van gelowiges inskakel. Ons benodig gelowige netwerke of persone in die opvangsgebied van EDENfm waarheen ons persone kan verwys, natuurlik met hulle toestemming. Alle versoeke en persoonlike besoeke word vertroulik hanteer."
Dr. Van Staden en sy gesin borg die kantoorhuur vir 'n volle jaar. Dit is kantoor 12b op die tweede verdieping van Shamrock Place, Yorkstraat.
Bel die sentrum by 044 873 6420/1 vir 'n versoek of 'n persoonlike afspraak, of SMS 'Gebed' gevolg deur 'n spasie en jou gebedsversoek na 39062.
* A prayer call centre recently opened its doors in the Shamrock building under the auspices of the EDENfm radio station. People who have a prayer request may call the centre on 044 873 6420/1. Christians who are willing to give two hours a week of their time to pray for others, may contact the centre.
'n Groepie gebedstryders wie se harte met deernis klop vir hul medemens. Hulle beman die gebedsoproepsentrum van 09:00 tot 11:00 op 'n Woensdagoggend. Van links is Sarah Jantjies, Priscilla Botha, Marlene Prins, Mary-Ann Rondganger en Kathy Mingo. Foto: Alida de Beer