GEORGE NEWS - Plaaslike modeontwerper, Austin Lee (21), was verheug toe hy onlangs hoor dat hy een van die finaliste is wat sy modereeks by die 2017 Nelson Mandelabaai Modeweek (NMBFW) vanaf 12 tot 15 Oktober in Port Elizabeth gaan vertoon.
Lee sê hy het in Maart vanjaar teen ander ontwerpers by die 'Bay Fashion Sundays' in Port Elizabeth meegeding.
Die organiseerders was beïndruk met sy ontwerpe en het hom aangemoedig om 'n portefeulje in te handig vir NMBFW.
Noudat sy portefeulje goedgekeur is, sê hy dit voel onwerklik.
"Om deel te wees van 'n geleentheid soos NMBFW is iets waarvan ek nog altyd net gedroom het.
"Ek sou net nooit kon dink dat daardie droom op so 'n jong ouderdom waar sou word nie. Dit is die begin van groot dinge vir my besigheid wat ek tans van die huis af bedryf."
Die ywerige modeontwerper sê sy reeks, luxe exotique wat Frans is vir eksotiese styl, wat hy vir die NMBFW skep is deur die vars bloeisels van lente geïnspireer.
"Ek is tans besig om die patrone vir my reeks te ontwikkel en beoog om binnekort met die produksie daarvan te begin," sê Lee.
Vanjaar is die NMBFW se tweede bestaansjaar en dit gee ontwerpers 'n platform om hul ontwerpe aan die bedryf se gevestigde modehuise bekend te stel.
Austin Lee saam met die modelle in sy uitrustings tydens sy modevertoning verlede jaar.
Lee sê hy het hulp nodig met, materiaal, vervoer, verblyf en bykomstighede om die ontwerpe af te rond.
"Met die nodige ondersteuning en my onblusbare passie vir ontwerp hoop ek om myself op gelyke "speelveld" as groot name soos Gert-Johan Coetzee te plaas."
Enige persoon wat die talentvolle ontwerper wil help om sy reeks op die loopplank bekend te stel, kan Lee by 061 304 1001 kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'