DISTRIKSNUUS - Lukas du Preez (66) se gebaar van liefde aan sy vrou, Marinda (64) wat sedert Julie in die Life Bay View privaat hospitaal vir Covid-19 behandel is, het verbeeldings plaaslik en internasionaal aangegryp.
Nadat die Mossel Bay Advertiser op 21 Julie 'n video van Du Preez wat vroegoggend trekklavier buite die hospitaal se Covid-19-saal speel op sosiale media geplaas het, het dit soos 'n veldbrand tot in die buiteland versprei.
Marinda is Saterdagoggend, 14 Augustus in die hospitaal op Mosselbaai oorlede nadat sy die koronavirus net nie kon klop nie.
Nuus van haar afsterwe, het soos haar man se "serenade vir die siekes", vinnig versprei en groot reaksie uitgelok. Medelye van onbekendes, aangeraak nie net deur Du Preez se passie vir sy vrou nie, maar ook deur sy nostalgiese musiek, het van oraloor ingestroom.
Volgens Charlotte Barnard, 'n administratiewe werker by die hospitaal wat die eerste video van Du Preez aan die Advertiser beskikbaar gestel het, was hy elke tweede dag getrou op sy pos om sy trekklavier te speel.
LEES MEER: Musiek uit die hart
'n Emosionele Du Preez het kort na Marinda se afsterwe gesê dat hulle sukkel met aanvaarding en voel of hulle gebede nie verhoor is nie, maar besef dat alles seker deel is van 'n breër plan.
"Covid is 'n verskriklike siekte. Ek weet nie hoekom dit haar so erg geaffekteer het nie. Teen die einde het sy baie swaargekry. Haar hart het net stadiger en stadiger begin klop," het Du Preez verduidelik.
Lees meer op susterskoerant, Mossel Bay Advertiser
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'