GEORGE NUUS - Oom Solly Rhode, kleinbesigheidsman en een van die oudste aktiviste van Pacaltsdorp wat 'n groot kampvegter vir die belange van sy gemeenskap was, is op Donderdag 30 Desember in die ouderdom van 92 jaar oorlede.
Hy het diep spore in Pacaltsdorp getrap.
Volgens 'n susterskind van hom, Joey Daniëls, was hy steeds aktief tot op die laaste. Die dag voor sy dood het hy nog oor die besige Beachweg na die winkelsentrum naby sy huis gestap.
"Hy het nog op sy eie gewoon. Vriende het 'n week voor sy dood by hom kom bly omdat daar inbrake in die omgewing was en omdat hulle bekommerd was oor hom," vertel Daniëls.
'n Diens om sy lewe te gedenk, word van 10:00 tot 11:00 komende Vrydag, 7 Januarie in die Congregational Kerk in Pacaltsdorp gehou.
Oom Solly is in Pacaltsdorp gebore en getoë. Hy het skool ná standerd 6 verlaat, soos dit die gebruik was in daardie dae. Hy was 'n leerder van Pacaltsdorp Primêr.
"Na skool het hy met 'n leerlingskap by mnr. McKay se kleremakersbesigheid begin. Ek dink die winkel was in die Eiland (Denneoord). Toe die Groepsgebiedewet ingestel is, moes die winkel na Marsktraat skuif," sê Daniëls.
Oom Solly het sy vlerke later na Mosselbaai gesprei waar hy by Green & Shirley-kleremakers 'n pos aanvaar het. Daarna het hy sy eie kleremakersbesigheid, Solly's Alterations, in Pacaltsdorp begin waar hy nie net vir die manne klere gemaak het nie, maar ook bekend geraak het as iemand met lewenswysheid wat 'n betroubare raadgewer vir sy klante was.
Hy het later 'n groter mark begin bedien en het na George uitgebrei waar hy 'n winkel agter die destydse Strydom en Jordaan oopgemaak het. Sy finale skuif was na die Millwood-gebou op die hoek van Victoria- en Yorkstraat. Daar het hy sy besigheid bedryf tot in 2004 toe hy op 75-jarige ouderdom die tuig neergelê het.
"As lid van die familie was ek een van dié vir wie Oom Solly elke jaar klere gemaak het. Hy was 'n beroepsman par excellence. As aktivis het hy baie sterk op sy beginsels gestaan en geglo in reg en geregtigheid. Hierdie eienskap het gemaak dat hy altyd waar hy kon, mense gehelp het. Sy hele lewe lank het hy sy hand uitgereik na benadeelde mense. Hy het hom beywer vir die bevordering en vooruitgang van Pacaltsdorp en sy inwoners en het 'n passievolle begeerte gehad vir die skep van geleenthede vir sy mense vir wie dit voorheen nie beskore was nie.
"Oom Solly het 'n ruim hart gehad en het homself male sonder tal tekort gedoen sodat ander se sosio-ekonomiese behoeftes vervul kon word. Hy was die gemeenskap se go to man. Daar was altyd mense op sy stoep vir wie hy moes raad gee en as segsman optree. Hy was baie keer in sy lewe die afgevaardigde waar sake met die munisipaliteit besleg moes word. Hy was altyd op hoogte van munisipale aangeleenthede en wetgewing."
Tydens die apartheidsbestel was Oom Solly 'n raadslid op die Pacaltsdorp-stadsraad. Hy was een van die vurige voorstanders vir Pacaltsdorp se onafhanklikheid omdat hy geglo het dat inlywing by George nie in die beste belang van sy geboorteplek sou wees nie. Tot en met sy dood was hy nog 'n wykskomiteelid en die dag voor sy dood het hy besoek van mense gehad wat klagtes onder sy aandag wou bring.
Daniëls vertel dat Oom Solly tydens wykskomiteevergaderings nie net sy eie wyk se probleme nie, maar die hele Pacaltsdorp se sake op die hart gedra het.
Hy was saam met wyle Freddie Arries een van die dryfvere agter aksies om vir Pacaltsdorpers vrye toegang tot hul geliefde strand, Gwaingriviermond, te behou. "Hy was vasbeslote om sy standpunt tot in die hoogste hof te verdedig. Hy het baie aksies op eie onkoste geloods. Sy uitgangspunt was altyd 'alles vir Pacaltsdorp'."
Oom Solly was ook 'n groot navolger van die Khoisan se gedragskodes en het dit deur sy lewenswyse getoon. Hy het gereeld hul byeenkomste, plaaslik en nasionaal, bygewoon en ondersteun. Hy was 'n uitstaande sportman en het uitgeblink in tennis, krieket en rugby. Hy was 'n uitstekende paaltjiewagter vir die Good Hope-krieketklub en het SWD-kleure verwerf.
"Hy sou altyd vertel hoe hulle SWD-span teen die magtige WP op Groenpunt gespeel het en van die ses wat hy daar geslaan het wat vir hom die hoogtepunt van die wedstryd was.
Hy het ook vir Evergreens Rugbyvoetbalklub se tweedespan gespeel. Sy beste herinnering was toe hulle een jaar die beker in 'n wedstryd teen Good Hope RVK van Groot-Brak gewen en daarna Pacaltsdorp binnegery het met twee spelers en die trofee voor op die motor se enjinkap."
Oom Solly was 'n toegewyde kerkman en een van die oudste lidmate van die Congregational Kerk. "Hy het graag die Bybel bestudeer en kon enige tyd daaruit aanhaal. Hy was op die feeskomitee vir die gemeente se 200-jarige feesvieringe."
Hy was ook musikaal aangelê en wanneer die familie Sondae bymekaargekom het, het hy en sy swaer, Joe Daniëls saam gespeel - hy op die kitaar en Joe op sy trekklavier. Oom Solly kon ook viool speel en hy het in die kerkkoor en die kerk se mannekoor gesing.
Hy laat drie seuns, vier kleinkinders en een agterkleinkind agter. Sy dogter en eksvrou, Alida, is reeds oorlede.
Oom Solly Rhode, tot op die laaste 'n kampvegter vir Pacaltsdorp en sy mense.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'